Innibos

Waarvoor staan ons?

Die Innibos Nasionale Kunstefees is méér as ’n fees – dit is ’n viering van kreatiwiteit, gemeenskap en die  warm gees van die Laeveld.

Deur musiek, teater, stories, lag en betekenisvolle gesprekke bring ons mense bymekaar oor grense van ouderdom, taal, kleur en agtergrond heen. Innibos staan vir inklusiwiteit, respek en vrye kreatiewe uitdrukking – ’n ruimte waar almal welkom is en elke stem gehoor word. Saam vorm ons ’n lewendige feesgemeenskap wat verskille omarm, nuwe idees koester en deur die kunste mekaar beter leer verstaan.

Wat is die Innibos Nasionale Kunstefees?

Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees is ’n Afrikaanse kultuurfees wat jaarliks in Nelspruit/Mbombela aangebied word. Van topklas musiek en teater tot boeke, kuns, stalletjies en smullekker feeskos word aangebied in ’n diverse program wat pitkos vir die fynproewer  én pret vir die fees-entoesiaste bied. 

Dit is ’n fees vol kleur, kreatiwiteit en energie. 

Doelwitte van die fees

Die Innibos Kunstefees stel hom ten doel om:

  • ’n Platform te skep vir die kunste.
  • Die Laeveld as toerismebestemming te bemark.
  • ’n Ekonomiese inspuiting  vir die plaaslike omgewing te verseker.
  • Gemeenskappe deur die kunste bymekaar te bring.

Innibos se geskiedenis

Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees het in 2003 sy ontstaan gehad toe Andy Lubbe en Sandra Jacobs besluit het dat die Laveld ’n wonderlike ligging vir ’n  kunstefees sou wees. Die matige winterklimaat, nabyheid van Suid Afrikaanse toerisme-ikone soos die Kruger Nasionale Park en die lieflike natuurskoon van die omgewing bied wonderlike geleentheid vir ’n fees om te gedy.  Die eerste fees, wat in Junie 2004 plaasgevind het met die tema “Al die Sterre is Innibos”, het sowat 25 000 besoekers gelok.  Die fees het duidelik ’n aar raakgeboor en mense het sedertdien van heinde en verre gekom om elke Wintervakansie saam in die Laeveld te kom feesvier.  Vandag lok Innibos ongeveer 80 000 besoekers en is die fees reeds menigmaal by die kykNET Fietsas vereer as “Fees van die Jaar”.

Innibos Span

Bestuur

Die Innibos Nasionale Kunstefees is ’n Nie-winsgewende Maatskappy  met ’n bekwame kern-bestuurspan van 7 mense.  ’n Direksie, onder leiding van Oud-premier Mathews Phosa, ondersteun die bestuurspan en  gee strategiese leiding.

Innibos oor diversiteit en inklusiwiteit

Innibos glo dat kuns mense bymekaar bring. As lid van die Feesteforum erken ons dat ongelykheid, rassisme en diskriminasie steeds deel is van ons samelewing en geskiedenis, en dat dit baie gemeenskappe raak. Juis daarom speel kunstefeeste ’n belangrike rol om ruimte te skep vir gesprek, begrip en verandering.

Dit is deel van Innibos se hart en missie om kunstenaars en gehore saam te bring op oop, veilige en kreatiewe platforms waar verskillende stories vertel en ervarings gedeel kan word. Ons is verbind tot inklusiewe programmering wat die ryk diversiteit van ons land weerspieël en ruimte laat vir eerlike diskoers.

Innibos nooi elke feesganger uit om hierdie waardes saam met ons te leef – om verskille te omarm, mekaar te respekteer en saam te bou aan ’n gemeenskap waar almal welkom voel. Deur die kunste vier ons mekaar, net soos ons is.

 

Doelstelling en Agtergrond

Innibos se doelsteĺling is om ‘n gesonde en veilige atmosfeer te skep waar kuns en vermaak deur feesgangers van alle ouderdomme  geniet kan word.

Drankgebruik onder minderjariges is ‘n ernstige probleem wat al hoe meer sy kop uitsteek. Buiten die feit dat dit onwettig is, veroorsaak dit ook ernstige nagevolge vir die jeug en die gemeenskap rondom hulle.

Ons wil ook verantwoordelike drankverbruik onder meerderjariges aanmoedig.

Innibos se dranklisensie is onderhewig daaraan dat drankverbruik op die feesterrein aan die land se Drankwet-vereistes moet voldoen. Die probleem is vir Innibos ‘n ernstige saak en sal daarvolgens aangespreek word.

Rookbeleid

Volgens wet is alle openbare areas ‘n rookvrye sone, so ook Innibos-feesterrein by Hoërskool Bergvlam. Die toepassing van hierdie beleid is dus net soos al die vorige jare.

Drankbeleid

Die volgende beleid sal vir Innibos in werking gestel word:

  • Geen privaat drank sal op die feesterrein toegelaat word nie;
  • Innibos behou die reg om besoekers by toegangshekke en op die feesterrein te deursoek vir drank. Alle drank wat van buite ingebring word, sal gekonfiskeer word. Indien drank by ‘n minderjarige gekry word, sal dit nie net gekonfiskeer word nie, maar die persoon sal ook na die SAPD / Oppivoete area vergesel word en sy ouers geskakel word om hom of haar te kom haal.
  • Volgens die Mpumalanga Drankwet, Wet 5 van 2006 (“Wet”)en Die Innibos Drankbeleid sal geen persoon jonger as 18 jaar toegelaat word om drank op die  feesterrein te koop of te gebruik nie.
  • Geen minderjarige wat reeds onder die invloed is, sal op die feesterrein toegelaat word nie;
  • Enige minderjarige wat hom / haarself as 18 jaar en ouer voorgee sal dadelik aan die SAPD oorgegee word.  Die ouers of voog sal in kennis gestel word om hom / haar van die feesterrein te kom verwyder;
  • Bewys van ouderdom deur middel van ID / bestuurslisensie sal by alle drank-afsetpunte ‘n vereiste wees waar twyfel oor die persoon se ouderdom bestaan.
  • Dit is teenstrydig met die Wet en Die Innibos Drankbeleid vir enige afsetpunt, vriend, ouer of voog om vir ‘n minderjarige drank te voorsien;
  • Enige persoon wat drank aan ‘n minderjarige voorsien sal onmiddellik aan die SAPD oorhandig word, aangekla word by die SAPD deur die GOS en van feesterrein verwyder te word.
  • Dit is verder teenstrydig met die Innibos Drankbeleid vir enige afsetpunt op die feesterrein om drank in ‘n bottel of geseëlde houer te verkoop. Bottels wyn mag slegs voorsien word aan feesgangers (18 jaar en ouer) wat in die betrokke wyn- of biertuin sit en dit daar geniet. Wanneer hulle die area verlaat moet die wyn in ‘n glas oorgegooi word.
  • Gebottelde drank wat op die feesterrein deur enige persoon verbruik word, sal gekonfiskeer word.
  • Persone, 18 jaar en ouer wat wettiglik drank op die feesterrein verbruik, sal aan die SAPD oorhandig word as hulle drank misbruik, rus verstoor, gewelddadig raak of dit onaangenaam maak vir ander feesgangers.

Inspekteurs wat deur Innibos aangestel is sal die feesterrein patrolleer en sal saam met die SAPD / Sekuriteit / GOS Bestuur   die bogenoemde wet en beleid streng toepas.

Innibos is trots op ons jeug en wil vir almal van hul ‘n aangename en veilige atmosfeer skep waar hul hulself kan uitleef op ‘n gesonde prettige wyse.

Alhoewel hierdie beleid streng toegepas gaan word, hoop ons dat geen drastiese optrede nodig sal wees nie.

Scroll to Top