By Toyota Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees 2026 gaan dit oor een ding: alles wat IN is en ons weet JY is beslis IN! Ná oorweldigende publieke navraag is die gewilde premium feeservaring in die Bespreekte Area vanjaar uitgebrei sodat nóg meer feesgangers die lekkerte kan geniet.
Volgens Andy Lubbe, feesbestuurder van Innibos, bied die Bespreekte Area die perfekte kombinasie van gemak, eksklusiwiteit en feespret en in 2026 vat ons dit net nóg ’n vlak hoër. Hy sê verder dat heelwat feesgangers ’n meer eksklusiewe ervaring wil hê en dat die feesbestuur daadwerklik opgetree het om meer bespreekte stoele (goue sirkel) kuiertafels en veldlosies (pods) by die aandkonserte te bied.

Hoofverhoog vermaak:
Die vermaak op die hoofverhoog is net so IN soos die Bespreekte Area self, met elke aand wat ’n unieke energie en mengsel van kunstenaars bring. Donderdagaand se Huisgenoot Afskopkonsert skop die fees af met groot name soos Die Heuwels Fantasties, Elvis Blue en Karlien van Jaarsveld, asook gunstelinge soos Ricus Nel, Van Pletzen en Die Piesangskille, ’n aand propvol saamsing en nostalgie.
Vrydagaand neem die Jacaranda FM-konsert oor met ’n kragtige kombinasie van kunstenaars. Van Bobby van Jaarsveld en Juanita du Plessis tot die alternatiewe klanke van Fokofpolisiekar en Spoegwolf, terwyl Riaan Benadé en Zaan Sonnekus sorg vir hoogtepunt na hoogtepunt.
Op Saterdag, 4 Julie 2026, pak die Springbokke Engeland, en die wedstryd sal regstreeks op die groot skerms uitgesaai word. As jy kan onthou hoe elektries die atmosfeer verlede jaar was, sal jy weet, hierdie is iets wat jy eenvoudig nie kan misloop nie. Om 19:00 bars die kykNET-hoofverhoog los met ’n sterbelaaide konsert wat kunstenaars soos Appel, Francois van Coke, Brendan Peyper, Early B, Elandré, BlackByrd en vele meer insluit, ’n viering van alles wat gewild, IN en relevant is.
“Feesgangers moet egter onthou: die geadverteerde line-ups is net die begin. Verrassingselemente en ekstra kunstenaars gaan deurentyd opduik, want by Innibos is verrassings ook beslis IN en #trending hierdie jaar!”

Premium Ervaring in die Besrpeekte Area:
Behalwe die “mosh pit” waar oud en jonk hul litte kan gaan swaai reg voor die hoofverhoog, begin die premium ervaring in die Bespreekte Area met meer spasie, meer vibes en meer mense wat IN is. Daar is elke aand 50 kuiertafels beskikbaar: Donderdagaand teen R1 210, Vrydag teen R1 810 en Saterdag R2 110 per tafel van 6 mense.
Sodra jy jou tafel bespreek het, druk eenvoudig jou bespreking uit en met jou aankoms by die Goue Sirkel sal sekuriteit vir jou 6 individuele armbande oorhandig, een vir elke gas by jou tafel.
Indien jy nie ’n tafel wil bespreek nie kan jy ’n stoel in die goue sirkel bespreek. Daagliks is daar 540 bespreekte stoele beskikbaar: Donderdag en Vrydag kos dié kaartjies R160 pp en Saterdag R210. Armbande kan met jou aankoms by sekuriteit by die Goue Sirkel-ingang afgehaal word.
Jy kan ook ‘n feesterrein parkeerkaartjie koop teen R260 per dag.
’n Beperkte hoeveelheid veldlosies is tans nog beskikbaar, ideaal vir korporatiewe onthaal, kompleet met ’n eie kelner wat drankies bedien vanaf die kroegarea.
En moenie bekommer oor kos nie. Bestel jou gunsteling feeskos by enige stalletjie en bring dit direk na die Bespreekte Area waar jy gaan kuier.
Andy beklemtoon dat die Bespreekte Area se premium ervaring NIE die algemene feesterrein toegang insluit nie. Toegang tot die feesterrein kos R250 vir Donderdag, R325 vir Vrydag en R385 vir Saterdag. Hierdie is nie net ’n plek om te sit nie. Dis waar die fees lééf, dans, saamsing en herrinneringe bou!
Neem asseblief kennis dat dit nie nodig is om plek in die Bespreekte Area te bespreek om die konserte te geniet nie. Feesgangers is welkom om steeds die atmosfeer vanaf die pawiljoene of gras rondom die Bespreekte Area te beleef teen geen ekstra koste buiten die gewone feesterreintoegangsfooi nie.
Alles wat IN is, gebeur by Innibos: van topvermaak tot onvergeetlike rugby-oomblikke. So die vraag bly: Is JY IN vir ’n premium ervaring in die Bespreekte Area?
Vir kaartjies en info besoek: innibos.co.za