fbpx

Innibos

Boeke

‘n Fees vir boekliefhebbers by die ATKV- Kuns- en Boeke-oase

Boek- en kunsliefhebbers kan vanjaar pitkos kry by Innibos Kunstefees se ATKV-Kuns- en Boeke-oase met topskrywers wat die fees bywoon. RSG-luisteraars kan ook kom “radio kyk” wanneer bekende omroepers van daar uitsaai. Die gewilde RSG-nuusprogram Spektrum sal op Donderdag, 27 Junie, en Vrydag, 28 Junie, onder leiding van Suzanne Paxton uitgesaai word van die oase. Saterdagoggend, 29 Junie, is dit die immergroen Derrich Gardner wat reeds om 6:00 agter die mikrofoon inskuif vir sy Brêkfis met Derrich”. Verskeie boekgesprekke word elke dag by die Boeke-oase gehou. Donderdag, 27 Junie, is die bekendstelling van digter Danie Marais se bundel Ek en jy bestaan nie met gesprekleier Danie du Toit van Spoegwolf. Hierdie bundel handel oor die menslike middelklastoestand en die unbearable whiteness of being wat waag om eerlik te praat oor die dinge waaroor mense liefs stilbly. Om 14:00 gesels Leon van Nierop oor sy pas verskene Droomjagter. Bekroonde skrywer Etienne van Heerden en Amore Bekker kom vertel op Vrydag, 28 Junie, om 11:00 en 16:00 onderskeidelik van hul boeke Gebeente en Ek het ’n Engel gesien (stories van RSG-luisteraars soos byeengebring deur Bekker). Dr. Mathews Phosa gesels op Saterdag, 29 Junie, met Annemarie van der Walt oor sy Afrikaanse digbundel en twee geskiedenisboeke waarmee hy besig is, asook sy dekadelange verbintenis met die Afrikaanse kultuurlandskap. Phosa is ’n stigterslid en voorsitter van die direksie van Innibos. Om 13:00 op Saterdag, 2 Junie, gaan Riaan Grobler oor sy debuutroman, Geheime op Philadelphia gesels. Annemarie van der Walt is die gesprekleier wat hom ook gaan pols oor sy tweede roman waarmee hy tans besig is. ’n Gratis wynproe en praatjie deur Van Loveren word elke dag by die ATKV-Kuns- Boeke-oase gehou. Donderdag is dit om 15:00, Vrydag om 13:00 en Saterdag om 14:00.Hierdie wyne sal ook hier te koop aangebied word. Kunstenaars soos Coffee Snobs, Christof Berg, Alouise en Stix tree ook hier by die ATKV- Kuns- en Boeke-oase op. Buiten die boekgesprekke is die amptelike Innibos-kunsuitstalling Son of a Shopfitter, deur Luan Nel te sien in die uitstalruimte. Nel, vanjaar se feeskunstenaar, is ’n bekende Kaapstadse kunstenaar wat met dié uitstalling onder meer sy kindertyd herbesoek asook sy dwingende begeerte om sy kreatiwiteit uit te leef ondanks struikelblokke en beperkings. Toegang tot die ATKV- Kuns- en Boeke-oase is gratis.

‘n Fees vir boekliefhebbers by die ATKV- Kuns- en Boeke-oase Read More »

Innibos bied ’n oase vir boeke en kuns

Die ATKV-Kuns- en Boeke-oase by Innibos is vanjaar opnuut die toevlugsoord vir lesers en liefhebbers van die skone kunste ná ’n afwesigheid verlede jaar. Verskeie boekgesprekke word elke dag by die ATKV-Kuns- en Boeke-oase by Laerskool Nelspruit se kultuursentrum gehou. Etienne van Heerder kom vertel onder meer van die magiese gegewens in sy boek Gebeente, Leon van Nierop gesels oor sy pennevrug Droomjagter en Amoré Bekker verklap as samesteller meer oor Ek het ’n Engel gesien, wat bestaan uit 72 stories oor Suid-Afrikaners se ervaringe met hierdie hemelse wesens. Die debuutboek van Riaan Grobler, Geheime op Philadelphia, word bekend gestel. Grobler is ook bekend as sanger en radiopersoonlikheid. Die kersie op die koek is ’n boekgesprek met Dr. Mathews Phosa waartydens hy meer sal vertel van sy derde Afrikaanse digbundel waarmee hy besig is, asook twee geskiedenisboeke in wording. Mathews is ʼn stigterslid van Innibos Kunstefees en het ’n boeiende verbintenis met die Afrikaanse kultuurlandskap. Danie Marias stel sy nuwe digbundel, Ek en jy bestaan nie bekend en Danie du Toit van Spoegwolf-faam gaan met hom gesels. Hierdie bundel handel oor die menslike middelklastoestand en die unbearable whiteness of being wat waag om eerlik te praat oor die dinge waaroor mense liefs stilbly. Buiten die boekgesprekke is die amptelike Innibos kunsuitstalling Son of a Shopfitter, deur Luan Nel te sien in die uitstalsaal. Nel is vanjaar die feeskunstenaar. Boeke en kuns gaan hand aan hand met rustige musiek en ’n lekker glasie wyn. Kunstenaars soos Coffee Snobs, Christof Berg, Alouise en Stix gaan hier optree en daar word daagliks ʼn wynproe deur Hetta Saunderson van Van Loveren aangebied. Feesgangers kan kom saamluister hoe RSG Spektrum op Donderdag, 27 Junie 2024 en Vrydag, 28 Junie 2024 om 12:00 vanaf die ATKV-Kuns- en Boeke-oase uitgesaai word. Die gewilde Brêkfis met Derrich word van 06:00 tot 10:00 op Saterdag, 29 Junie 2024, uitgesaai. Dit is ʼn op en wakker Saterdagoggendkuier met musiek, kompetisies, omgewingsake en motors aangebied deur die immergewilde Derrich Gardner. Al hierdie boekgesprekke en aanbiedings word gratis aangebied. Die ATKV- Kuns- en Boeke-oase by Nelspruit Laerskool Kultuursentrum is beslis ʼn besoek werd.

Innibos bied ’n oase vir boeke en kuns Read More »

Innibos Feesdigter Johan Myburg

Innibos Feesdigter Johan Myburg Johan Myburg is op 17 Julie 1957 in Pietersburg (vandag Polokwane) in Limpopo gebore. Johan bring sy studentejare deur op Potchefstroom, waar hy in die teologie studeer het. In 2000 het hy ‘n doktorsgraad aan Unisa behaal. Sy eerste digbundel, Vlugskrif, is in 1984 deur Perskor gepubliseer. Dit het Johan ’n tien jaar geneem voordat sy tweede digbundel, Kontrafak, in 1994 by Human & Rousseau uitgegee is. Met hierdie bundel het hy die resensente aan die praat gesit en ook die Eugène Marais-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1995 verower. “Ek sien letterkunde as deel van die kunste. Die visuele kunste, musiek, verse, drama, ballet, dans, noem maar op, dit is alles een groot manier van uiting. In 2008, ná veertien jaar van digterlike stilte, word Johan se derde bundel, Kamermusiek, by LAPA Uitgewers gepubliseer. As daar na die titels van sy bundels en gedigte gekyk word, is dit duidelik dat musiek ’n groot rol in Johan Myburg se lewe en digkuns speel. “Daar is in woorde ’n ongelooflike musikaliteit. En musiek is vir my belangrik,” vertel Johan. In 2017 verskyn Johan Myburg se vierde digbundel Uittogboek wat met groot genot op grond van klank- en woordspel en die betowering van beelde geniet word. Volgens Joan Hambidge is Uittogboek ’n komplekse bundel wat handel oor die geskiedenis, ver en naby, en die programgedig is ’n herdigting van die bekende sterfgedig van die Romeinse keiser Hadrianus. Nie net is Uittogboek in 2018 die wenner van die ATKV-Woordveertjie vir poësie nie, maar in 2020 vrower Johan ook die Hertzogprys vir poësie. Sy jongste bundel, Narreskip, verskyn in 2022 by Protea Boekhuis. Johan sê: “Woorde moet ’n mens steeds versigtig kies, maar ek dink luister raak ’n groter noodsaaklikheid. My geslag veral, neem aan ons weet. Ek dink ons moet minder dawer en meer luister. Johan het spesiaal vir Innibos ʼn gedig rondom die tema Feesmaal geskryf. Hierdie gedig gaan in musiek, dans en visuele kuns uitgebeeld word tydens die vereringsgeleentheid wat op 26 Junie 2024 om 18:00 by die ATKV Kuns- en Boeke-oase plaasvind. Jaco van Schalkwyk is die kunstenaar wat die gedig visueel gaan uitbeeld, terwyl Franco Prinsloo die komponis gaan wees wat die gedig gaan toonset. Die gedig gaan deur Émil Haarhof in dans uitbeeld word terwyl Anna Davel dit voorlees en ULTRACoustic Duo (Wilken Calitz en Dirkie van Staden) die musiek maak. Hierdie pragtige gedig gaan saam met die kunswerk by die ATKV-Kuns- en Boeke-oase uitgebeeld word. Hier is die gedig wat hy spesiaal vir Innibos geskryf het: Feesmaal 1 Vooraf Maande lank word die palet betrag, op die tong gerol, besnuif, oorweeg, vir balans bevoel, vir soet en suur, vir bitter ook, souterigheid én umami. Ná maande kom “pikant” wat draal, en “murgsag”, “beleë” en “fors” tot stand – ná kuur en preserveer, ná ryp laat word en milddadig marineer. 2 Heildronk I Dat helder water dalk eufories skop betwis ons nie, die soort wat vloei in soet riviere. Nietemin lig ons ʼn glas, besing die meesters van die edel dop – dis dié wat immer waag, wat innoveer en fyn versny, ons bowenal bly voed, 3 Wenresep Kry die beste produkte – seisoenaal bly koning – ken jou gerei, die nukke van jou stoof en meer nog die giere van jou eters. Berei met flair, dog onopgesmuk, nonsensvry, geregte wat jy toeoog weet gaan deug terwyl jy oopoog vir die toorkrag van die oomblik bly. 4 Feesmaal Die harde grond is skoongevee met besembos wat spoortjies laat en dwarsweg dalk ʼn sleepsel los in losser sand, paradyslik. Onder jakkalsbessies val spatsels son vir dramatiese effek, ʼn klein plek in die bos met ʼn ruim hart waar ʼn menigte in kan pas rondom tafels, uitgedra, ʼn lang verhoog met tafeldoekdamask daaroor vir rekwisiete, ʼn vloer vir bosgeeste en vir waterspriete, vlug soos vrugtevlermuise. En gaan die ligte later aan, vuurvliegies en die maan, die Melkweg ʼn boog bo-oor bome, verskyn een na die ander sterre skitterend aan tafel, begin die fantasie. 5 Heildronk II Op alle bereiders van dié banket – vlugtige skadu, kortstondige droom –   van magiërs wat flink fiksie versin tot minstrele wat ons sinne voer, en skrywers, metafories met ink aan die vingers, bedinkers van mise-en-scène, choreograwe, regisseurs en les bes donateurs. ʼn Glas op kunste in die bos! Verwerk vanaf www.litnet.co.za.

Innibos Feesdigter Johan Myburg Read More »

ATKV Boeke-crawl

Na ʼn afwesigheid van 4 jaar is die boeke-crawl weer terug op die Innibos spyskaart. Hierdie produksie was een van Innibos se wenresepte en die kaartjies daarvoor was elke jaar héél eerste uitverkoop. Met woorde, sinne, verse, verhale en musiek is die ATKV Boeke-crawl ʼn unieke en eiesoortige woordreis.  Die ATKV Boeke-crawl is ʼn moet vir elke feesganger wat glo in die krag van die woord, hetsy ʼn greep uit ʼn roman deur ʼn topskrywer, ʼn kortverhaal wat jou laat regop sit, of ʼn trefseker gedig. Voeg daarby musiek en die tafel is gedek vir kos vir die siel. Feesgangers kry ʼn doppie-koppie met ʼn knertsie Van Loveren Muskadel en ʼn serp om die ergste koue van die mistieke dorpie, Kaapsehoop, te besweer. Daar is drie aandoenplekke waar daar rondom boeke, woorde en wysies gekuier gaan word.  Die eerste aandoenplek is Bohemian Groove Café waar daar rondom die letterkunde van die liefde gekuier gaan word. Hier gaan akteur Johny Klein en sanger Refentse wys hoe vloei woord en lied ineen in ʼn vlegsel van letter en klank. Alles rondom die emosies wat liefde ontlok. Werke van verskeie skrywers gaan naatloos verweef word tot pure lekkerkry. Die tweede aandoenplek is die Kapel by Silver Mist Country Inn. Hier gaan die groot gees van Afrikaans letterkunde Etienne van Heerden gesels oor sy magiese roman Gebeente en ook fragmente daaruit voorlees. Die regte atmosfeer gaan met kitaar en viool geskep word deur Dirkie van Staden en Johan Scheppel.  Dan stap die feesgangers na Nagkantoor se OppiToneel waar feesgangers getrakteer gaan word met lekkerte uit die oeuvre van Koos Kombuis. Uit hierdie kulturele ikoon se pen het ʼn outobiografie, roman, riller, talle rubrieke, kortverhale, gedigte en liedjies gevloei. Die bekende aktrise, Jana Cilliers, gaan van sy treffende werke voorlees, terwyl Koos self sy liedjies gaan sing. Hongerpyne word afgeweer deur ligte verversings by die aandoenplekke. Laataand keer die busse weer terug na Mbombela. Die ATKV Boeke-crawl is die plek waar die krag van die woord gevier word. Dit vind plaas op Donderdag, 27 Junie 2024. Die eerste bus vertrek 15:00 en die tweede 17:00. Kaartjies kos R350.

ATKV Boeke-crawl Read More »

ATKV Kuns en Boekeoase

Vir liefhebbers van kuns en boeke is die ATKV Kuns- en Boekeoase net die plek om tydens die fees te besoek. By die pragtige Kultuursentrum van Nelspruit Laerskool word daar daagliks boekgesprekke aangebied. Etienne van Heerden gaan oor sy boek Gebeente gesels en Leon van Nierop stel sy splinternuwe roman Droomjagter bekend. Mathews Phosa kom gesels oor sy liefde vir Afrikaans en sy derde Afrikaanse digbundel wat in wording is. Daar gaan ook heerlike musiek gemaak word om hierdie knus atmosfeer te verryk. Sangers soos Alouise, Christof Berg, en Coffee Snobs gaan hier optree. Die Innibos Kunsuitstalling beloof om hierdie jaar die kersie op die koek te wees. Feeskunstenaar Luan Nel se pragtige kunswerke gaan hier uitgestal word. Vandat hy in 1998 die beoordelaars se prys vir Sasol New Signature kompetisie gewen het, het hy ontwikkel tot ʼn gerekende kunstenaar wat al nasionaal uitgestal het. Sy kunswerke gaan beslis kos vir die siel wees. Johan Myburg is Innibos se feesdigter en hy het spesiaal vir Innibos gedigte geskryf rondom die tema Feesmaal. Hierdie gedigte het as inspirasie gedien vir kunswerke wat ook hier uitgestal gaan word.  Hierdie gaan beslis die plek wees om vir ʼn wyle tydens die fees te parkeer. Want behalwe vir die kuns en boekgesprekke, is daar ook heerlike kos, gin en wyn te koop. 

ATKV Kuns en Boekeoase Read More »

Boekgesprekke by Radio Laeveld 100.5FM

Donderdag 29 Junie 11:00: Dana Snyman Vrydag 30 Junie 11:00: Jacques Pauw Saterdag 1 Junie 11:00: Marinda Engelbrecht Radio Laeveld 100.5FM-verhoog. Daar gaan daagliks tussen 11:00 en 12:00 by die Radio Laeveld- uitsaaistasie op die feesterrein interessante boekegesprekke met skrywers plaasvind. Hierdie gesprekke word ook uitgesaai sodat al Radio Laeveld se luisteraars wat nie op die feesterrein is nie, ook daarna kan luister. Kom vind uit hoe Dana sy skryfwerk benader, wat sy gunsteling genres is en hoe dit verskil om fiksie teenoor ’n verhoogteks te skryf. Dana is die skrywer van Reünie, ʼn komedie wat by Innibos debuteer, met Frank Opperman in die hoofrol en De Klerk Oelofse as regisseur. Op Vrydag vertel Jacques Pauw oor hoe hy vir sy boeke navorsing doen en seker maak hy is binne die wet wanneer hy belangrike persone se ongerymdhede en skelmstreke ontbloot. Op Saterdag kook ons lekker met Marinda Engelbrecht, wanneer sy ons meer kom vertel oor haar topverkoper – kookboeke. Annemarie van der Walt is die onderhoudvoerder.

Boekgesprekke by Radio Laeveld 100.5FM Read More »

Notebook with cup of coffee and cellphone

Kaapsehoop Boekenaweek

Kom luister, lees en kuier saam met die uitgelese skrywers op Kaapsehoop – vir ’n ganse naweek lank. Die Innibos @ Kaapsehoop Boekenaweek is van 1 tot 3 September 2023. Van romans, digkuns en aktuele boeke en hul skrywers trek tydens dié naweek saam vir ’n boekprogram uit die boonste rakke op die skilderagtige Kaapsehoop. So, liewe leser, sorg dat jy daar is! Boekbekendstellings en -praatjies, voorlesings en gesellige kuiers rondom die woord is Innibos se splinternuwe manier om boeke te vier. Vir meer inligting, kontak Annemarie van der Walt by annemarie@innibos.co.za.  Geborg deur ATKV

Kaapsehoop Boekenaweek Read More »

Poetry Slam

Date and time: Fri 30 Jun 16:30 – 1:30, Sat 1 Jul 16:30-19:30 Venue: 420MP, Suikerriet street Cover charge: R50 Words in my Mouth is a poetry platform in Mbombela with the aim to promote arts in general in the city, as well as giving up and coming poets the opportunity to perform. This is the coolest place to be during Innibos 2023. Call Menzi Mkhonza on 073 512 1435 to find out more about the slam vibe!

Poetry Slam Read More »

Scroll to Top