Toyota Innibos vereer Kurt Darren – ’n Legende van Afrikaanse Musiek
Kurt Darren is ons eie Sokkiekoning en ’n trefferfabriek van Afrikaanse dansmusiek. Sy liedjies is op elke speellys waar daar partytjie gehou of gedans word. Daarby geniet sy treffer “Kaptein,” wat selfs op stadions buite die landsgrense gespeel word sodra ’n Springbok gewaar word, die status as ons nie-amptelike volkslied.
Ná dertig roemryke jare in die vermaaklikheidsbedryf, seil hy steeds volstoom voort en het al in 15 verskillende lande anker gegooi. Hy skryf die meeste van sy liedjies self en treffers soos “Kaptein,” “Hemel op Tafelberg” en “Meisie Meisie” is al 35 keer deur sangers in Nederland, België en Duitsland vertaal en opgeneem.
For Your Precious Love, sy eerste album, verskyn in 1995. Sy groot deurbraak kom egter eers in 2002 toe die titelsnit van sy sesde album, Meisie, Meisie, die treffersparade haal. In 2008 tref “Kaptein” die lug en dit word ’n immergroen treffer wat ná 17 jaar steeds die voete laat jeuk.
Tans is daar ’n imposante 30 albums agter sy naam. Sy jongste wegholtreffer, “Hop, hop, spinnekop,” wat in November 2024 vrygestel is, spog met 65 miljoen kyke op TikTok en meer as 5.4 miljoen op YouTube. Sy musiek is al bykans 120 miljoen keer op verskeie digitale musiekplatforms gestroom en op YouTube is sy musiekvideo’s al meer as 240 miljoen keer gekyk.
Vanaf 2006 tot 2011 bied hy die gewilde musiekprogram “JukeBox” op kykNET aan. Hy het selfs al sy lyf akteur gehou in films soos “Liefling” en “#LoveMySelfie.”
Op sy kerfstok pryk vele toekennings, onder andere 9 SAMA’s, 12 dubbelplatinum en 21 goue verkope-toekennings, sowel as prestige toekennings van Tempo, Ghoema, Vonk en Geraas.
Sy impak op die plaaslike musieklandskap is onmiskenbaar. Hy lewer ’n enorme bydrae tot die evolusie van moderne Afrikaanse musiek en bring dit ook na internasionale gehore. Innibos vereer Kurt Darren, die Kaptein van Lekkerness, vir sy lewenslange toewyding aan Afrikaanse musiek. Danksy hom gaan ons nog lank op tafels dans!