Julian Jansen - Die moord op Deveney Nel uitgegee deur NB Uitgewers
Gesprekleier: Annemarie van der Walt
Tussen die mooi landskappe van Caledon ontvou ’n ondenkbare tragedie. Deveney Nel, ’n talentvolle 16-jarige, se lewe eindig skielik op 7 Augustus 2024, en die gemeenskap, saam met die res van die land, is geruk. Julian Jansen, skrywer van topverkoperboeke soos Moord op Stellenbosch, ondersoek die gebeure wat gelei het tot dié tragedie en die drie kinderslagoffers wat deur die stelsel gefaal is: Die 17-jarige seun, wat vier jaar tevore aangekla is van die verkragting van ’n 11-jarige meisie; hierdie getraumatiseerde meisie, wat moes toekyk toe die seun steeds aan sy ouers se toesig oorgelaat word sonder enige staatsintervensie; en Deveney, wat hy vermoor het by sy nuwe skool, waar niemand van sy verlede geweet het nie. As misdaadverslaggewer vir Rapport, het Julian Jansen van die begin af oor die saak geskryf. Hy benut sy uitgebreide kontakte binne die polisie, sowel as onderhoude met vriende en familie, om die gebeure te rekonstrueer en om die vermoorde Deveney Nel te eer. Kom luister na hierdie bekroonde ondersoekende joernalis se insig oor moordsake en waarom daar so baie moorde op Stellenbosch is. Hy is die skrywer van die topverkoperboeke Die De Zalze-moorde, Seuns sonder pa’s en Moord op Stellenbosch. Hy woon in Strand, Kaapstad.
Produksie Inligting
Plek: Die ATKV-Boeke-oase
Prys: Ingesluit in jou feesterrein toegangsfooie.
Die ATKV-Boeke-oase is dié plek om te ontspan en kos vir die siel te kry! Hier kan jy heeldag rustig saam gesels, kuier, koop en luister.
Bekende en geliefde skrywers verklap elke dag hul skryf- en ander geheime tydens die ATKV-Boekgesprekke. Kom maak kennis, luister na wat hulle inspireer en laat jou boek teken!
Exclusive Books-Boektafel
Na die gesprekke met die onderskeie skrywers, sal hulle boeke te koop aangebied word. Die Exclusive Books-stalletjie is reg langs die ATKV-Boeke-oase, waar daar ‘n groot verskeidenheid boeke te koop aangebied word.