Laat waai met lekker klanke in die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin – een van vier kuierverhoë op die feesterrein
Behalwe vir al die lekkernisse op die feesterrein en die skouspelagtige konserte op die Toyota-Hoofverhoog, wag daar nog ’n magdom ander ervarings en intieme musiekmomente op jou by Innibos – en ingesluit by jou kaartjieprys, kan jy ’n rits ander kunstenaars en gebeurtenisse ervaar, gratis en verniet! Van diep lirieke tot vrolike kuiermusiek, spog Innibos met vier unieke kuierverhoë, elk met sy eie atmosfeer en karakter. Een van die gewildste kuierplekke is die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin.
Innibos se Everest Wealth Wingerd Kuiertuin is die perfekte kuierplek vir moeë bene en vrolike harte – ’n oase van lekkerte waar musiek en smake mekaar ontmoet. Tydens ’n dag vol inkopies, feesterrein-verkenning en kultuurbederf, is dit hiér waar jy kan uitspan, ontspan en lekker saam sing!
Donderdag skop die kuiertuin op ’n lekker noot af met die betowerende klanke van Bianca Blanc en Wanda Zonke. Smul aan ’n kaasbord saam met Chef Tiaan en SPAR, terwyl plaaslike kunstenaar, Natascha C en haar begeleier Henry-John Williams, se sang en klavierspel die lug vul. Len Muller bring sy sielvolle snitte en as jy ’n fynproewer is, moenie die olie-proe saam met Marinda Engelbrecht en SPAR misloop nie!
Vrydag se line-up beloof nóg lekkerness met die talentvolle Thapelo Lekoane en Len Muller wat weer die verhoog betree. Maak jou smaakknoppies wakker met Pasta onder die soeklig met Chef Tiaan en SPAR en geniet die musiek van Meisie en Jack & June. Die geur van kos en klank meng perfek wanneer Marinda Engelbrecht jou wys hoe om geure in jou disse te sit – want by Innibos is dit nie net musiek wat jou siel voed nie!
Saterdag bring die groot laaste kuier, en dis ’n fees van musiek, smaak en pure lekkergeit! Volgens Sandra Jacobs, direkteur van die fees, sorg Len Muller en Thapelo Lekoane vir musikale hoogtepunte, terwyl jy kan leer hoe om die perfekte braaibroodjie te pak saam met Chef Tiaan, Rian van Heerden en SPAR. “Dan is dit tyd vir ʼn bietjie Damian Beer en Bianca Blanc, voordat die laaste proe-ervaring jou smaaklik verras, want of jy huil van lekker-lag, of ’n aan-die-brand-mond, gaan jy ’n sousie saam met Marinda Engelbrecht, Janey & Waney en SPAR proe.” En om dinge behoorlik af te sluit, bring Werner van der Hoven sy klanke om jou Innibos-herinneringe nog so ’n rukkie langer te laat speel.
Sandra sê dit so mooi: “Innibos is ’n fees van klank, geur en samesyn – en die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin bring dit alles bymekaar op ’n manier wat net Innibos kan.”
So trek jou skoene uit, skink ’n glasie, en kom ervaar die lekker van Innibos op sy beste in die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin!