Standard Bank Innibos Kunstefees – nommerpas planne en optimisties

Beplanning vir die Standard Bank Innibos Kunstefees, wat na 16 tot 20 Desember vanjaar verskuif is, stoom voort en die Innibos-bestuur is propvol nommerpas planne.

Dié fees wat gewoonlik in Junie in Mbombela plaasvind en al vyf keer die Fiësta-toekenning gekry het vir die gewildste fees. Die meeste feesgangers is van Mpumalanga en Gauteng, en verlede jaar was die ekonomiese impak van die kunstefees in die plaaslike gemeenskap sowat R82,4 miljoen.

Vanjaar bring egter heelwat uitdagings weens Covid-19. “Stil sit is nie ’n opsie nie, en ondanks die heersende onsekerheid of openbare byeenkomste wel teen daardie tyd sal kan plaasvind ingevolge regeringsregulasies, word daar hard gewoeker aan ’n feestelike program,” sê Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuuder van Innibos. “Mense is uitgehonger vir ontspanning, iets wat in die verlede as so vanselfsprekend aanvaar is.”

Sandra benadruk dat gesondheidsmaatreëls heel bo-aan die prioriteitslysie in die beplanning van die kunstefees is. “Dit stel wel heelwat beperkinge, maar struikelblokke is nog altyd vir ons iets om in geleenthede te omskep. Waar daar ’n wil is, is ’n weg, en ons glo feesgangers sal verantwoordelik optree,” sê sy.

’n Bonus vir feesgangers is dat Sondag, 20 Desember, ook ’n feesdag is tot 17:00 teen ’n lae toegangsfooi van R50 per persoon. Die Loof Hom Innibos-konsert wat om 19:00 afskop op die hoofverhoog is oudergewoonte gratis.

Nuwighede op die feesterrein by Hoërskool Bergvlam is die insluiting van onder meer boekpraatjies, kos- en selfdoen-demonstrasies asook ’n gesellige en rustiger ruimte as deel van die kunspark waar onder meer wynproë aangebied sal word.

Volgens Sandra is die fokus vanjaar om waarde toe te voeg op die feesterrein om aan feesgangers die beste waarde vir geld te kan bied. “Iedereen se beskikbare besteebare inkomste is onder druk weens die Covid-19-pandemie, daarom is dit vir ons baie belangrik om as’t ware ’n vakansie-in-die-kleine aan te bied. As jou vakansie op die lange baan is, bied Innibos daardie wegkomkans,”  sê sy.

Oudergewoonte sal die aandkonserte op die Standard Bank-hoofverhoog die hoogtepunt wees. Kunstenaars wat sal optree, sluit in Theuns Jordaan, Elvis Blue, Riana Nel, Juanita du Plessis, Fatman, Die Campbells, Jan Blohm, Spoegwolf, Francois van Coke, Elandré Schwartz, Ricus Nel, Bok van Blerk, Die Heuwels Fantasties en Demi Lee Moore, om maar net ’n paar te noem.

Verskeie toneelproduksies debuteer by die kunstefees, waaronder Dobbel met onder andere Suzanne Beyers, Cintaine Schutte en Marguerite van Eeden; Leengoed met Tobie Cronje en Wynand von Vollenstee en As met onder andere Francois Jacobs in die rolverdeling. Die immergewilde Boekecrawl word ook weer gehou op Kaapsehoop.

Daar is steeds ’n kans vir kreatiewe uitstallers wat hul handgemaakte en ander produkte wil verkoop by die Bosmôl. Vir meer inligting hieroor, bel Alison Linde by 082 460 3855 of stuur ’n e-pos aan alison@innibos.co.za.