Pragkonsert by Innibos

Die musiekbeweging Musiek en Liriek vier hulle 40ste verjaardag by Innibos met bekende name uit dié beweging soos Anton Goosen, Coenie de Villiers en Jannie du Toit. Die destydse Trilogie – met Jannie du Toit, Morg Jacobs en Innibos se feesbestuurder Andy Lubbe gaan vir ʼn verrassing sorg. Die pragtige Steffie le Roux met haar engelstem is ook deel van hierdie produksie. Met topmusikante soos Mauritz Lotz en Susan Mouton beloof hierdie konsert uit die boonste rakke te wees.

ʼn Bietjie agtergrond oor die Musiek en Liriek-beweging: Op 24 Maart 1979 in die Laager-teater in die Mark-kompleks in Johannesburg het die nuwe Afrikaanse musiek sy eerste treetjie gegee. Daar was 80 teatergangers. Na aanleiding van Merwede van der Merwe se gelyknamige televisieproduksie met grootliks die musiek van Anton Goosen en Koos du Plessis uitgevoer deur Laurika Rauch, Mynie Grove, Des Lindburg en Sias Reynicke  het Rosa Keet en De Waal Venter die konsep van substansiële Afrikaanse musiek verhoog toe geneem. Van die kunstenaars wat hul eie werk of toonsettings uitgevoer het, was onder andere Jannie de Toit, Clarabelle van Niekerk, Louis van Rensburg en Laurika Rauch.

Met Musiek en Liriek is die Rubicon van Afrikaanse musiek oorgesteek om as teenvoeter te dien teen die vertaling van Europese liedjies wat aan die orde van die dag was. Weens die sukses en media-belangstelling is ʼn latere weeklange reeks weer in die Laager gedoen asook teen die einde van die jaar. Daarna is dit na verskeie groter teaters geneem soos die Arena in Rosebank, die Wena Naude, Unisa, die destydse SFW-amfiteater Stellenbosch, ens. ʼn Weeklange simposium is by die SAUK gehou om die nuwe tendens deeglik te bespreek.

Kunstenaars wat later bygekom het, is o.a. Coenie de Villiers, Amanda Strydom, David Kramer, Annelie van Rooyen, Koos du Plessis, en nog vele meer. Die media was gaande en die Engelse pers het dit New Wave Afrikaanse musiek gedoop. Later sou die Luisterliedjie afsplinter met ʼn gereelde tuiste in die Staatsteater in Pretoria.

Die Musiek en Liriek-beweging het as inspirasie gedien vir onder andere die Voëlvry-beweging (met Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, e.a.), Houtstok (1990), die Wildebeestjare (Piet Botha, Jan Blohm, Adam Tas, Bacchus Nel, e.a.) en die Zoid-generasie (Karen Zoid, Gian Groen, Akkedis, Beeskraal, e.a) Vandag is daar ʼn hordehorde nuweling-kunstenaars en bands soos Herman Kleynhans, Tribal Echo, Churchill Naude, Refentse, Spoegwolf e.a wat  in Afrikaans skep en dit lewendig uitvoer

Dit is veertig later, en die daardie Afrikaanse musiek uit eie bodem is steeds tydloos, klassiek en as’t ware deel van ons DNA. Kom luister na die Liedjieboer en sy mede-musiekmakers!

Dit is dus tyd vir feesvier. Moenie hierdie besondere produksie misloop nie.