Laevelders leer by bekendes

Die Innibos Eisteddfod Werkswinkels is die afgelope naweek by Hoërskool Nelspruit aangebied. Dit was ter voorbereiding van die Eisteddfod wat die 23ste Augustus 2021 afskop.

NATi (die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief) het fondse beskikbaar gestel om Margit Meyer Rödenbeck, Wynand van Vollenstee, Francois Jacobs en Adriaan van As na die Laeveld te bring en die kinders kon aan die voete van hierdie bekendes leer.

Margit Meyer Rödenbeck wat ʼn meestersgraad in teaterkunde het, het die leerders van karakterisering en karakterontleding geleer en gewys hoe ʼn mens in ʼn karakter klim. Haar verhoogkarakter Dowwe Dolla is volksbesit, maar sy het ook al in verskeie uiteenlopende verhoogproduksies gespeel en gewys dat daar baie meer in haar steek as net ʼn blonde koppie.

Wynand van Vollenstee het die leerders geleer hoe om hulle stem te gebruik en hulle moes verskillende tonele opvoer. Wynand is bekend vir sy komiese rolle soos Karate Kallie, Die Munisipaliteit van Ghwarra-Ghwarra en Ouboet en Wors en het die leerders laat skater met sy pittige sêgoed en pretaanbieding.

Adriaan van As en Francois Jacobs is twee Laevelders wat die leerders geleer het hoe om ʼn storie te ontleed en die rol wat aksie, plek, emosie en karakter in die vertolking daarvan speel. Adriaan van As is die agter Rubberarm Produksies wat bekend is vir hulle unieke advertensies en Francois Jacobs het bekendheid verwerf in Huisgenoot se wegholtreffer Vir die voëls. Die leerders het dié twee se lewendige aanbieding baie geniet.

Francois se splinternuwe fliek Kaalgat Karel waarin hy die hoofrol vertolk, verskyn vanaf 23 September op die skerms. Die première van hierdie rolprent vind plaas tydens Gaan Bos InniMall wat Innibos saam met i’langa Mall aanbied. Besoek die Innibos-webtuiste vir meer inligting.

Dit was verseker vir die leerders lekker om met sulke bekendes skouers te skuur en hulle kon nie uitgepraat raak oor hierdie besondere geleentheid wat hulle danksy Innibos en NATi kon meemaak nie.