Innibos Hoofuitstalling

’n Boodskap van John Anthony Boerma, Innibos se kunskurator vir die 2017-uitstalling.

Met elke jaarlikse kunsuitstalling tydens Innibos stel ons kunsliefhebbers bekend aan kunstenaars wat die kern van sienswyses, houdings en lewenswyses van ons hedendaagse samelewing verteenwoordig. As “afskeidsgeskenk” in my laaste jaar as kurator van die Innibos visuele kunste-program het ek besluit om nie, soos gewoonlik, ʼn feeskunstenaar te kies nie. In my jare as kurator en kunspraktisyn het ek met ʼn wye verskeidenheid kunstenaars en werke kennis gemaak. Vanjaar se uitstalling verteenwoordig dertig werke wat ek as toonaangewend beskou- my persoonlike XXX. Die werkstitel vir die uitstalling was “dertig kunstenaars wat jy moet sien voor jy die ondermaanse verlaat”, en ek hoop dat jy jouself sal verlustig in die verskeidenheid en wye spektrum van uitdrukking wat vanjaar se uitstalling bied – dat dit jou sintuie en intellek sal uitdaag!

INNIBOS FEES-UITSTALLING

MY DERTIG

4 tot 8 Julie 2017

Nelspruit Burgersentrum Banketsaal

Kuns is tydloos. Dit praat ʼn taal van sy eie – soms padlangs, maar ander kere weer kompleks en bykans onverstaanbaar vreemd. Elke kultuur en groep vind betekenis in kuns, ongeag van die medium en die rasionaal. Kunstenaars bring kuns voort met ʼn spesifieke, onbeheerbare dringendheid gebore uit hul behoefte om te skep, om kommentaar te lewer sonder woorde, om ʼn oomblik van skoonheid of boosheid vas te vang. In die proses word ons gewone mense se verbeeldings op ongekende wyse aangegryp – ons kyk en kyk en kyk. Elke slag uit ʼn ander hoek en met nuwe begrip en gewaarwording. Kuns bring visie en missie, kan skares opsweep en net so vinnig gemoedere laat bedaar. Kuns is ʼn wonderwerk.

In menige gemeenskap word mensekinders beskou as die hart en gewete van die heelal en as rentmeesters. Kunstenaars vul dikwels hierdie roeping en verteenwoordig die gees van die skepping. Skeppers van kuns beskik oor ʼn sterk sin vir regverdigheid, verantwoordelikheid en integriteit; hulle verteenwoordig die gemarginaliseerdes en die wat afgeknou en verstoot word. Hulle verstaan oorlewing en die mens se soeke na geregtigheid, aan die een kant, maar ook vrede. Kuns stimuleer diskoers.

John-Anthony Boerma, kunskurator van die Innibos Nasionale Kunstefees, beeld die vele dimensies van kuns uit deur ʼn unieke verskeidenheid van dertig kunswerke deur dertig wêreldbekende Suid-Afrikaanse kunstenaars na Mbombela te bring. Laevelders kan nou deel word van die internasionale kunsmilieu.

My Dertig is ʼn opwindende kompilasie van kunswerke van verskillende mediums wat op ʼn internasionale vlak kommentaar lewer op die Suid-Afrikaanse samelewing, politiek en mense se verwronge ingesteldhede.

Die versameling praat hard en duidelik met Suid-Afrika en roep haar om op te hou treur oor alles wat verkeerd is en eerder die moeilike pad na herstel aan te pak. Nolan Oswald Dennis se werk, byvoorbeeld, vra na die heroorweging van die konsepte van onthou en vergeet in die kleurlose uitbeelding van die Suid-Afrikaanse vlag: Die illusie van die reënboognasie is aan’t verdwyn en net haar mense kan dit in volle kleur herstel.

Daar word ook klem geplaas op die onderskeid tussen goed en kwaad, tussen onskuld en bedorwenheid. Die werke is ʼn simbool van Suid-Afrikaners se oë wat uiteindelik oopgaan om hierdie alomteenwoordige elemente van kwaad en bedorwenheid duideliker te kan onderskei. Afskeid is ʼn deurlopende suggestie en die betekenis is helder: Ons moet nie net afskeid neem van die onregte van die verlede nie, maar ook van die huidige toestand van verval en die vooruitsig van ʼn troostelose toekoms. Eenheid en gelykheid, simpatie en aanvaarding is herhalende temas in die werke en dit is juis deur hierdie gesindhede wat ons land sal genees en ons hoop sal herstel.

Die kunswerke dui nie net op die inherente kreatiwiteit van die kunstenaars nie, maar ook op inisiatief en deursettingsvermoë, op ʼn geringskatting van opinie en kritiek. Kuns is vreesloos. En uit die mond van Jerzy Kosinski: “Die grondbeginsel van ware kuns is om uit te lok, nie om uit te beeld nie.”

The principles of true art is not to portray, but to evoke”- Jerzy Kosinski

Die kunstenaars wat by hierdie uitstalling te sien sal wees is, sluit in:

  • Lisa Brice
  • Carla Busuttil
  • Noland Oswald Dennis
  • Hasan and Husein Essop
  • Robert Hodgins
  • Sam Nhlengetwa
  • Clive van den Berg
  • Gabrielle Goliath
  • Haroon Gunn- Salie
  • William Kentridge
  • Katrine Brink Claassens
  • Tsoku Maela
  • Athi Patrat Ruga
  • Brett Murray
  • Wayne Barker
  • Vusi Khumalo
  • Micheal Mc Garry
  • Blessing Ngobeni
  • Jan Henri Booyens
  • Turiya Magdalela
  • Griet van der Meulen
  • Maurice Mbikayi
  • Joel Mpah Dooh
  • Heidi Fourie
  • Shenaz Mahomed
  • Chrisel van der merwe
  • Minekul u Ngoyi

[ngg_images source=”galleries” container_ids=”20″ display_type=”photocrati-nextgen_basic_thumbnails” override_thumbnail_settings=”0″ thumbnail_width=”240″ thumbnail_height=”160″ thumbnail_crop=”1″ images_per_page=”20″ number_of_columns=”0″ ajax_pagination=”0″ show_all_in_lightbox=”0″ use_imagebrowser_effect=”0″ show_slideshow_link=”0″ slideshow_link_text=”[Show slideshow]” order_by=”sortorder” order_direction=”ASC” returns=”included” maximum_entity_count=”500″]