Kry vir jou ’n tux, Thomas
KOMEDIE
Met Dean-John Smith en Marion Holm
Tessa Slabbert is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Sy wéét vanaand se funksie, en die belaglike “Toekenning vir Lewenslange Bydrae” wat sy kry, is haar smokgevreet van ʼn eksman se manier om subtiel te sê haar tyd is verby. Sý is Le Poulpe (Die Seekat) Cosmetics! Tessa gaan nie opdaag nie. Dit sal hom en sy kredietkaartkoket leer om nie met Tessa te mors nie. Stotterende Thomas het sy hande vol om Tessa te oortuig om tog maar te gaan – asof dit die belangrikste taak van sy lewe is … Wanneer sy uiteindelik, op een voorwaarde, instem, kan hy nie anders as om te doen wat sy vra nie. Daar is baie op die spel. ‘n Stuk oor seekatte, wat ons doen om okay te wees en wat dit alles met Noddy te doen het. Marion Holm en Dean John Smith speel die verhoog vuurwarm in hierdie nuwe komedie uit die pen van Retief Scholtz. Daar is baie om oor te lag, maar, vir balans, nes dit maar altyd in die lewe is, is daar ook heelwat om oor te huil. Maak vas jou sitplekgordel: Tessa en Thomas het dinge om te sê.
Hierdie produksie is lig en snaaks; mooi en hartseer. ʼn Besliste moet-sien op die Innibosspyskaart.
Produksie Inligting
Teks en regie: Retief Scholtz
Vervaardiger: The Artist Warehouse
Gradering: Geen O/13
Venue: Mbombela Stadsteater / Civic Theatre
Tydsduur: 75 min
Prys: R195
ʼn Innibos- en Vrystaat Kunstefees ko-produksie ondersteun deur NATi, vervaardig deur The Artist Warehouse.