Innibos bied vanjaar ‘n propvol feesterrein!
Die Innibos-feesterrein by Hoërskool Bergvlam gaan vanjaar van 29 Junie tot 2 Julie vermaak van vroeg tot laat aanbied. Beste nuus is, al die vermaak op die feesterrein is gratis by die hektoegang ingesluit.
Die hekke open daagliks om 10:00, en elke feesdag word oudergewoonte met ’n topmusiekkonsert op die Innibos Hoofverhoof afgesluit. Kunstenaars soos Bok van Blerk, Francois van Coke, Elandré, Droomsindroom, Spoegwolf, Elvis Blue, Demi Lee Moore en talle ander is deel van die Huisgenoot Afskop-konsert, die JacarandaFM- en die kykNET-konserte op dié verhoog.
’n Splinternuwe kuierarea op die feesterrein is die Wingerd Kuiertuin in die kunspark. Hier sal feesgangers wyn van verskillende landgoedere kan proe (en koop). Daar sal ook deli-stalletjies wees met proe-kos om die palet te prikkel. RSG gaan daagliks tussen 12:00 en 13:00 van die Mopani-verhoog af in die Wingerd uitsaai. Die program is ook volgepak met ’n verskeidenheid kunstenaars wat deurentyd gaan sorg vir musiek en bekende skrywers soos onder andere Jacques Pauw wat sy boeke gaan bekendstel en lekker gesels.
By die 100.5FM Uitsaaistasie op die feesterrein (in die Wingerd Kuiertuin) kan feesgangers onderhoude met van die kunstenaars en akteurs wat by Innibos optree, geniet. Daar is elke dag tussen 11:00 en 12:00 in hierdie area ook ‘n boekepraatjie met skrywers soos o.a. Dana Snyman en Marinda Engelbrecht.
Kom luister na bekende én nuwe opkomende kunstenaars, waaronder Caroline-Grace Brüssow, Reën, Eloff, Müller Brandt, Pieter Marcato, David Fourie en Jakkie Louw, wat vanjaar ʼn vars briesie na Innibos se drie kuierverhoë bring. Die drie verhoë is die Nashua-verhoog tussen die biertuine op die boonste veld reg oorkant die hoofverhoog, die kykNET-verhoog in die Bosmôl en die Mopani-verhoog in die Wingerd Kuiertuin.
Die Boma-kuierteater op die feesterrein bied stukkies teater uit die boonste rakke aan. Hier word feesgangers kuier-kuier aan teater en ander kunsvorme blootgestel. Kom geniet kort eenmanvertonings, toneelproduksies en interessante onderhoude. Wynand von Vollenstee is daar met Willie wil wheelie, Lizz Meiring gaan akteurs laat bontstaan in Wie praat die waarheid? wanneer sy daagliks met kunstenaars gesels om uit te vind hoe hulle bedraad is. Aan die einde van die onderhoud gaan die kunstenaars ook hulle toneelspel demonstreer deur drie interessante inligtingsbrokkies omtrent hulleself met die gehoor te deel – waarvan een natuurlik ʼn liegstorie is. Kom kuier gerus saam en kyk of jy kan bepaal watter een die bogstorie is. Daar is ook die Storievuur met Dana Snyman en die bekende geskiedkundige en storieverteller Fransjohan Pretorius.
Die kleinspan kan inklok by die SPAR-Woelwaters vir ’n daaglikse program. Felias en Pokkel kom kuier, sowel as Tjominis met die bekende Sorina – aka Flooze- wat die kleingoed vermaak. Daar is ook storietyd saam met die ATKV, kolwyntjiepret met SPAR en Fun Galore se eiesoortige speelgoed.
Vanjaar is daar ook ʼn magdom van nuwe uitstallers in die Bosmôl wat nog nooit voorheen by die fees was nie. Daar is sowat 250 uitstallers van reg oor die land en baie van die uitgesoekte produkte wat nie in gewone winkels beskikbaar is nie – moet dit nie misloop nie! En wat is die fees nou sonder ‘n heerlike roosterkoek of pannekoek! Daar is eetgoed te kus en te keur is by talle kosstalletjies op die feesterrein.
- Vir meer programinligting, gaan na innibos.co.za. Kaartjies vir die feesterrein en al die Innibos produksies is te koop by Computicket. Kaartjies kan ook vanaf 15 Mei by die Innibos feeskantoor in Sonpark, ingang Johannastraat gekoop word.
–einde—
Navrae
Sandra Jacobs
Media- en bemarkingsbestuurder
082 853 7885
Annemarie van der Walt
Woordprogram en media
083 289 3823