fbpx

Innibos

Dit was inderdaad ’n fees!

Dit was inderdaad ’n fees!

Innibos 2023 was voorwaar een vir die boeke! Die terugkeer-fees ná ’n feesdroogte van 3 jaar het in alle opsigte verwagtinge oortref. Die fees is deur 64 000 mense bygewoon wat tussen 29 Junie en 2 Julie na Mbombela opgetrek het en ’n verskeidenheid musiek, komedie, drama en kunsproduksies ondersteun het. “Die feesterrein was die sentrale bymekaarkomplek en die aandkonserte op die hoofverhoog, voor ’n stampvol stadion, het ons net weer laat besef hoeveel almal die fees gemis het” sê Andy Lubbe, die feesbestuurder.  “Feesgangers het baie positiewe terugvoer gegee oor die kwaliteit en verskeidenheid wat Innibos bied, en dit maak ons harte bly,” het hy bygevoeg.

Die fees se topverkoper toneelproduksies was Reünie met Frank Opperman, en Sandra Prinsloo se produksie Kamphoer. Feesgangers was gaande oor die pragtige kunsmark, die oulike kindervermaak by SPAR Woewaters en die puik vermaak by die Laevelder Boma Kuierteater. Die klassieke musiekproduksie en die a-capella konsert van die Harvard Krokodiloes is nog vertonings wat feesgangers uitgesonder het as hoogtepunte by vanjaar se fees. Die kykNET-konsert wat Saterdagaand op die hoofverhoog aangebied is, was wêreldklas en is deur ongeveer 25 000 feesgangers geniet.

Die datums vir 2024 is reeds vasgemaak, en getroue Innibos ondersteuners kan solank 27 tot 30 Junie 2024 in hul dagboeke aanteken! Dan hou ons wéér heerlik fees in die Laeveld!

Scroll to Top