fbpx

Innibos

Moet Weet

So word jong akteurs oud vir ’n rol

Akteurs en glanspersoonlikhede is gewoonlik sinoniem met verjongingskure, maar as ʼn rol dit vereis, kan jeugdige akteurs vinnig in ʼn ou dame of man omskep word met die nuutste tegnologie en grimeerkunsies. Innibos Kunstefees het vanjaar twee produksies waar jong akteurs ouer of bejaarde karakters vertolk. Die jeugdige Desire Gardner, bekend vir haar rolle in Roepman, Binnelanders en Suidooster, vertolk deesdae die rol van Magda Louw wat haarself in haar herfsjare bevind. Hierdie kykNET-televisiereeks is vir die verhoog verwerk en is by Innibos op die planke. Vir die televisiereeks moes die twee hoofkarakters, Desire Gardner en Hannes van Wyk, ure in die grimeerstoel deurbring om hulle na middeljariges te transformeer. In sowel Hans steek die Rubicon oor en die Hans gee Herklaas horings vertolk die jeugdige Charlie Bouguenon die rol van die 92 jarige Hans van Kraaienburg. Met toepaslike grimering en baie akteursvernuf klim hy pens en pootjies in dié bejaarde karakter in. Beide hierdie produksies is topverkopers by teaters landswyd asook by kunstefeeste soos die Suidoosterfees en die KKNK. Innibos se jong Tiktokker, Ané Niehaus, het spesiaal Rand toe gery om by Oakfield College te gaan kers opsteek oor hoe akteurs so ʼn gedaanteverwisseling ondergaan. Oakfield College bied kursusse in drama, grimeerkuns, spesiale effekte, musiekteater, ontwerp en vele meer aan. Sy wou self sien hoe dit gedoen word en ʼn spesiale sessie is met die lektor, Alet Dreeckmeier gereël om hierdie bloedjonge juffer oud te laat lyk. Die hele proses is op film vasgelê en die lesers kan gerus daarna gaan kyk op Tiktok onder die naam @fees_vlooi.  

So word jong akteurs oud vir ’n rol Read More »

Klankdrama

Hoorbeeld Naam van produksie: Klankdrama Met Kobus Burger, Annemarie van der Walt, Alita Steenkamp, Louise Schoeman, Veronica van der Walt, Frances van Niekerk, Christelle Olckers. Tegniese regisseur en klankingenieur: Johann Pieterse Vervaardiger: Innibos Kunstefees Gradering: Gesin Datum en tyd: Woensdag, 28 Jun 18:00 Venue: Silver Mist Kapel, Kaapsehoop Tydsduur: 75 minute Prys: R100 Ondersteun deur Die Dagbreek Trust Hoe gemaak dat luisteraars as’t ware klank kan sien, hoor en proe? Hoe skep ’n mens die juiste  atmosfeer met slegs klank tot jou beskikking? Dít is die wonder van ’n radiodrama, en in die woorde van Kobus Burger, RSG-programhoof en aanbieder van verskeie radiodrama-slypskole: “Goddank vir klank!” Binne die bestek van twee dae het Burger verskeie skrywers touwys gemaak in die fynere kuns van die radiodrama. Hierdie kort klankjuwele is opgeneem deur gesoute stemkunstenaars, geredigeer, en met byklanke gegeur. Kom beleef die klankstories – hetsy drama, komedie of daardie een met die angel in die stert. Dit sal jou meevoer na ’n verbeeldingswêreld sonder grense. Hierdie is ʼn unieke produksie soos nog nooit tevore gesien of gehoor is nie: dit is vars, anders en lekker. Jy sal jou ore nie glo nie!  

Klankdrama Read More »

Mirakel

Toneel: Drama-komedie Naam van produksie: Mirakel Met Dawid Minnaar, Bettie Kemp, Rolanda Marais, Edwin van der Walt, Carla Smith en Eben Genis Teks: Reza de Wet Regie en ontwerp: Marthinus Basson Verhoogbestuurder en beligtingsontwerp: Nicolaas de Jongh Assistent-verhoogbestuurder: Philip Theron Gradering: Geen o/12 (Vooroordeel, Diviniteit) Datum en tyd: Do 29 Jun 11:00; Vr 30 Jun 18:00; Sa 1 Jul 10:00 Venue: Mbombela Stadsteater Tydsduur: 130 min (pouse ingesluit) Prys: R190 Vervaardiger: KKNK ’n Feesteforum-produksie, moontlik gemaak deur NATi Dis 1938. Met die Depressie sukkel mense om te oorleef. ’n Teatergeselskap onder die leiding van die befaamde akteur Dante du Pré bevind hulle in ’n klein dorpie in die hoop om ’n bietjie verligting te bring met ’n opvoering en sodoende die baie leë geldkoffer weer ’n bietjie aan te vul. Maar een van die spelers, die jong Abel, kom oorspronklik van die dorp en is steeds getroud met die stinkryk en heelwat ouer, Anna. Maar sy liewe Lenie verwag nou sy kind. Dan daag Anna op met ’n mandjie vol kos en die verhongerde geselskap moet begin kies tussen oorlewing en verraad, idealisme en realiteit. Hierdie bittersoet komedie uit die pen van die magiese Reza de Wet is nog steeds net so vars en in gesprek met ons huidige realiteit ná Covid-19 en ’n steeds tuimelende ekonomie.  

Mirakel Read More »

Kamphoer

Toneel: Drama Naam van produksie: Kamphoer – die verhaal van Susan Nell Met Sandra Prinsloo Teks: Cecilia du Toit, Sandra Prinsloo en Lara Foot Gegrond op die topverkoper en debuutroman Kamphoer deur Francois Smit en die niefiksie-publikasie The Boer Whore deur Nico Moolman Regie: Lara Foot Stel- en beligtingsontwerp: Patrick Curtis Klankontwerp, klankbaan en komposisie: Simon Kohler Kostuumontwerp: Mariechen Vosloo en Birrie le Roux Verhoogbestuurder: Jeanne Steenkamp Vervaardig deur Theatrerocket Moontlik gemaak deur KunsStig Gradering: Geen o/14 (Taal) Datum en tyd: Do 29 Jun 18:00; Vr 30 Jun 11:00; Sa 1 Jul 10:00 Venue: Nelspruit Hoërskool Ouditorium Tydsduur: 75 minute Prys: R180 Gegrond op ʼn ongelooflike verhaal, vertolk Suid-Afrikaanse legende Sandra Prinsloo die uitdagende rol van Susan Nell wat gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) in ʼn konsentrasiekamp beland waar sy deur twee Britse offisiere en ’n joiner wreedaardig verkrag en vir dood agtergelaat word. Sy oorleef die gruweldaad en reis gedurende die Eerste Wêreldoorlog na ʼn psigiatriese hospitaal in Engeland waar haar paaie kruis met een van haar verkragters, waar hy as pasiënt aan bomskok ly. Met dié herontmoeting word Susan opnuut gekonfronteer met die pyn en vernedering van haar verlede. Beeld skryf: “Sandra Prinsloo speel dié rol met oorgawe.” Stronk beskryf dit as “’n kragtige drama wat diep tref” en “Prinsloo se kragtoer as Susan Nell het die gehoor verdwaas gelaat. Trane het in baie oë geblink ná ’n staande ovasie.” Jan-Jan Joubert skryf in sy resensie vir Maroela Media: “Dit is meesleurend. Beter teater gaan jy nie sommer kry nie, en as jy dit misloop, is dit onontkenbaar jou verlies”. Dié kragtige drama het talle toekennings ingeryg na vyfster-resensies en uitverkoopte vertonings. Hierdie pragstuk is bekroon met ʼn kykNET Fiësta-toekenning en ʼn Naledi-prys vir die beste spel in ʼn solovertoning. Die produksie is benoem vir Fiësta-, Fleur du Cap-, Aardklop- en Naledi-pryse. Kamphoer was die topverkoper by verskeie feeste en hierdie pragproduksie is nou hier in die Laeveld te sien. Foto’s deur Jesse Kramer:

Kamphoer Read More »

Hans gee Herklaas horings

Toneel: Komedie Naam van produksie: Hans gee Herklaas horings Met Tobie Cronjé Debuut: Ja Teks: Rudie van Rensburg Gradering: Gesin Datum en tyd: Vr 30 Jun 10:00; Sa 1 Jul 14:00 Venue: Bergland Laerskool Tydsduur: 70 min Prys: R180 Ondersteun deur Innibos Debuut RSG luisteraars het vasgenael voor die radio gesit en luister hoe Tobie Cronje lewe gee aan Rudie van Rensburg se karakters in die Hans-boeke. Binnekort speel hy ook in die rolprentweergawe van Hans steek die Rubicon oor. Nou kry Innibos gehore die eerste unieke geleentheid om Tobie lewendig op die verhoog te ervaar in ʼn dramatiese voorlesing en verwerking van Hans gee vir Herkaas horings.  Hans, verlosser van die inwoners van Huis Madeliefie, is die oplosser van al hulle klagtes. As beheerraadlid is hy verantwoordelik om alle klein probleempies op te los – met gans te min geld in die kitty. As Fasie hom dus nooi vir ʼn vakansietjie op Hermanus, is Hans maar te gretig om sy Safari-pakke te pak. Daar kom hy in aanraking met Grond Graaffwater (Overstrand se rykste skobbejak) wat sy enorme hotel op Herklaas se grond wil bou. Hans gee Herklaas horings ʼn topverkoper-boek uit die pen van Rudie van Rensburg beloof om teatergangers te laat kraai van die lag. Kom beleef die legendariese Tobie Cronjé in al hierdie karakters wanneer hy deur dramatiese voorlesing aan hierdie karakters lewe gee. Die trapsitplekrye by Bergland Laerskool is met trots geborg deur Mpumalanga Scaffolding.

Hans gee Herklaas horings Read More »

Innibos se 2023 se toneelprogram stampvol verrassings!

 Innibos se toneelprogram gaan iets vir ʼn ieder en ʼn elk bied. Op die toneelfront is daar van ernstige dramas tot skreeusnaakse komedies. Een van die hoogtepunte wat aangebied gaan word, is Mirakel met Dawid Minnaar, Brümilda van Rensburg, Rolanda Marais, Edwin van der Walt, Eben Genis en Carla Smith. Hierdie drama behoort elke teaterganger se hart te raak. In Kamphoer – die verhaal van Susan Nel  is Sandra Prinsloo in die naamrol. Hierdie is ‘n kragtoer wat nie misgeloop mag word nie en  beloof om die hartsnare te raak. Kom lag saam met Hans steek die Rubicon oor en Hans gee Herklaas horings met Charlie Bouguenon in die hoofrol. Hans se manewales sal almal laat skater. Dan is Desiré Gardner as Magda Louw nou op almal se lippe met die gelyknamige gewilde televisieprogram – ʼn eenvrou-komedie op sy beste! Die immergewilde Laerskool Noord met Margit Meyer Rödenbeck, Marion Holm, Ilne Fourie en Neels Coetzee is ook op die planke. Dit gee ‘n kykie na wat in ‘n skool se personeelkamer aangaan. Die regie is deur Gideon Lombard. Natuurlik is die gewilde My vrou se man se vrou ook op die spyskaart. Met Phillru van Achterbergh, Botha Enslin, Marissa Claasen, Danielle Britz, Stefan Vermaak, Thiart Li en Etienne du Plessis beloof hierdie vermaak uit die boonste rakke. Frank Opperman is hier in ʼn splinternuwe stuk wat deur Dana Snyman geskryf is. Hou hierdie spasie dop vir verdere inligting oor die program.  

Innibos se 2023 se toneelprogram stampvol verrassings! Read More »

Scroll to Top