Toekennings

Toekennings by Innibos 2014

André le Roux du Toit, oftewel Koos Kombuis, is volksbesit, maar nie van die konserwatiewe soort nie. Hy is ’n “belese boemelaar, religieuse soeker en ’n rockster, wat deur die mallemeule van roem, drank en dwelms” is en heel anderkant uitgekom het. Hy is vandag ’n gesinsman, ’n produktiewe skrywer, gerespekteerde openbare kommentator en rubriekskrywer met verskeie albums en romans op sy naam en word allerweë beskou as een van die talentvolste Afrikaanse kunstenaars.

Sy loopbaan kan rofweg in vier tydgleuwe verdeel word. In die laat sewentigerjare skryf hy onder die naam André Letoit en was veral bekend vir sy opsetlike kitsch kortverhale wat hy vir die Huisgenoot geskryf het. Gedurende die laat tagtigs en negentigs spits hy hom toe op musiek en tree op as Koos Kombuis, maar met die draai van die millennium verlaat hy weer die rockverhoog om voltyds te begin skryf. Hy maak naam as rubriekskrywer vir Rapport, maar skryf ook gereeld vir die webblad LitNET en verskeie tydskrifte. Deesdae doen hy so bietjie van albei, maar fokus hoofsaaklik op sy skryfwerk.

Vele van sy gedigte is in verskeie digbundels opgeneem, ook in die nuwe Groot Verseboek, saamgestel deur André P. Brink. Sy outobiografie Seks & drugs & Boermusiek (2000) is seker een van die eerlikste en snaaksste outobiografieë wat nóg verskyn het. Dit was ’n wegholsukses en is reeds vele kere herdruk. Sy kabaretroman Raka – Die Roman (2005), ’n hedendaagse reaksie op die epiese gedig, Raka, deur N.P. van Wyk Louw, wat die kollektiewe vrese van die mensdom blootlê, het kritici gaande gehad. In 2010 verskyn Die tyd van die kombi’s wat ’n persoonlike terugblik is op die Voëlvry-toer waarin lesers toegelaat word om nader te kom aan die musiek en die mense wat daardie musiek gemaak het. Deesdae leer hy ons ook om in Afrikaans te Tjieng in sy een en twintigste boek i-Tjieng, ’n GPS vir verdwaalde siele (2013) wat gebaseer is op die antieke Chinese geskrif I Ching wat reeds eeue lank geraadpleeg word vir insig en leiding.

Na verskeie eenman- en kabaretvertonings word sy rockmusiekloopbaan gelanseer op 25 Maart 1988 by die seminale Eerste Alternatiewe Afrikaanse Rockkonsert in die Pool Club in Johannesburg. Dit was dan ook die platform waarvan die berugte-beroemde Voëlvry-toer in 1989 afgeskop het waartydens Afrikaans se ideologiese onderrok uitgetrek en haar korset ’n bietjie losgeryg is. Saam met o.a. Johannes Kerkorrel (Ralph Rabie), Bernoldus Niemand (James Phillips) en Dagga-Dirk Uys het hulle die land vol getoer en deur middel van rock-’n-roll met onverskrokke lirieke geprotesteer teen apartheid en die destydse Nasionale Party-regering. Nodeloos om te sê, was hulle op verskeie kampusse verbied, maar tot groot ontsteltenis van die volksvaders en -moeders het dit het hom gevestig as die guru van Afrikaanse rockmusiek.

Koos Kombuis het word geweldig gerespekteer in Afrikaanse liedjieskrywing. Hy het 13 CD’s onder sy belt, waarvan Bloedrivier (2008) die suksesvolste is. Die liedjie Lisa se klavier van sy 1988 album Niemandsland and beyond is by verre sy bekendste liedjie en is al opgeneem deur Laurika Rauch en die Parlotones. Na die sukses van dié album skep hy liedjies soos Kytie, Bicycle sonder ’n slot, Huisie by die see en natuurlik ook Die Fokkol song.

Koos Kombuis vra tereg in een van sy rubrieke van etlike jare gelede, waarom mense altyd eers na hulle dood vereer word. By Innibos glo ons ook daaraan om “blomme te bring” terwyl die mense nog by ons is en daarom is ons verheug om Koos Kombuis amptelik te vereer deur die Innibos Toekenning vir Lewenslange Bydrae vanjaar aan hom toe te ken. Hy ontvang die toekenning vir sy groot bydrae tot Afrikaans as skrywer, sanger, musikant en liedjieskrywer. Ons hoop dat hy ons vir nog ’n paar dekades lank sal vermaak, maar ook soos sy gewoonte is, ons heilige koeie nie sal ontsien nie.

Hy ontvang ’n beeld van die bekende beeldhouer, Anton Smit.

2013 se Innibos-toekennings

Na afloop van elke feesjaar word daar ’n aantal toekennings gemaak. Verlede jaar was die gewildste produksie by Innibos die komedie, Tango, uit die pen van die veelbekroonde skrywer, Chris Barnard. Die produksie het uitstekend by die loket gevaar en alle vertonings was vooraf uitverkoop. Katinka Heyns het die regie waargeneem en met ’n formidabele rolverdeling wat Tobie Cronjé, Marius Weyers, Cobus Rossouw en Tinarie vanWyk-Loots insluit, was dit ’n spogproduksie.

Innibos ken ook jaarliks ’n prys toe vir die produksie, kunstenaar of regisseur wat die grootste kunstenaarsbydrae tot die fees gelewer het. Tobie Cronjé, het nie net in die gewilde Tango uitmuntende spel gelewer nie, maar ook in Ballade van ’n Banggat het verlede jaar met dié toekenning weggestap. Hy het ook ’n Fiësta-toekenning vir die beste solovertoning in ’n produksie vir sy rol in laasgenoemde gekry.

Die toekennings was beelde wat die bekende Laeveldse beeldhouer Arend Eloff geskep het.