spacer

Mathews Phosa, voorsitter van Innibosdireksie se boodskap:

mathewsHierdie is nie 'n bogstorie of iets wat ek uit my duim gesuig het nie. Inteendeel, dis die ware Jakob, 'n suksesstorie wat die afgelope tien jaar propvol intriges was en waarvan die storielyn gereeld verander het.
Ek praat natuurlik van die tiende Innibos Nasionale Kunstefees wat vanaf 26 tot 30 Junie in Nelspruit aangebied word. Die tema, "Dis 'n storie" neem my onmiddellik terug na 'n baie klein begin in 2003. Ons was 'n paar entoesiastiese Laevelders wat om 'n tafel bymekaar gekom het waar Andy Lubbe en Sandra Jacobs hulle visie van 'n nasionale kunstefees op eie bodem, met ons gedeel het. Ons direksie was vuur en vlam. Ons kon toe al voorspel dat dié fees 'n hoogtepunt op die nasionale kalender sou word. Die Laeveld het die perfekte winterweer en met soveel mense wat jaarliks vir vakanasie hierheen stroom, kon ons kapitaliseer op 'n mark wat reeds bestaan. Met 'n kontantborg van R50 000 deur die plaaslike sakeman, Nico van Zyl, is Innibos gebore en hoewel slegs 25 000 besoekers die eerste een bygewoon het, het ons almal besef dat Innibos hier was om te bly. Die res is geskiedenis. Standard Bank en Jacaranda FM se vertroue in die fees en hulle jarelange borgskappe, het verseker tot ons suksesverhaal bygedra. 'n Nuwe hoofstuk word dié jaar met Vodacom wat nou ook hul gewig ingegooi het, begin.
Daar is egter vele ander kleiner, meer plaaslike borge wat met hul bydrae 'n groot verskil gemaak het en die gemeenskap verdien 'n klop op die skouer hiervoor.
U as besoekers wat elke jaar terugkeer, het teen dié tyd al u eie storie oor Innibos. Ek kan al hoor hoe u om die braaivleisvure vertel van "onthou jy daardie keer by Innibos toe die stormwind ons amper weggewaai het?", of "onthou jy toe die krag meer as 'n uur af was en almal spontaan begin saamsing het?." Dis hiérdie juweeltjies wat aan elke besoeker sy unieke ervaring gee. Vanjaar gaan u sommer baie stories kan vertel.
Die bestuur het baie moeite gedoen om 'n wonderlike program saam te stel wat in elkeen se smaak sal val. Of u nou van die opelug-kuierplek, teater, musiek of kuns
hou - Innibos het dit op die spyskaart.
Vir my was die laaste tien jaar 'n nostalgiese reis waar brûe oor kultuur- en kleurgrense gebou is om 'n beter gemeenskap te help skep.

Dankie aan elkeen van julle wat die hoofstukke help skryf het. Geniet Innibos!

facebook_icon twitter_icon youtube_icon

wg3fv426

Toegangsfooie en Kaartjieverkope

Soek

Teken in op Tjirp

Anti spam vraag: 1+1=
Naam:
Epos: