
VISUELE KUNS MET DIE TEMA “DIS ’N STORIE”
INNIBOS FEESKUNSTENAAR: Anton Smit
Nelspruit Burgersentrum, Tyd: 10:00-20:00
Vanjaar se feeskunstenaar is Anton Smit.
Gepas tot die tema van storie-in-woord en daarby dat Innibos vanjaar vir die eerste keer ’n Feesdigter aangestel het, vat Anton se werk hande met sý aanslag, losweg vertaal as ‘... die produk van die poësie van woord en vorm in die natuur, soos deur die mens vergestalt ...’
Anton kom van Boksburg en het op sestien reeds sy eerste beeldhouprys gewen. Hy is totaal self-geleerd – en het vervolgens ’n welbekende en multi-bekroonde beeldhouer geword – een wat sy werke skep met humor en veral ’n groot liefde vir die poësie. Al werkende kan hy die mooiste gedigte uit sy kop voordra.
Sý taal vind beslag in liriese beeldhouwerke wat sy hartstog weerspieël om abstrakte gevoelens in konkrete vorms daar te stel.
Terselfdertyd getuig dit van ’n diep gelowige hart en ’n soeke na die geestelike.
Anton word tans as een van die mees toonaangewende beeldhouers in Suid-Afrika beskou – sy beeldetuin net buite Bronkhorstspruit is getuie van die impak van sy werke – maar hy word ook internasionaal hoog gereken. Sy werke is al in Rome, Milan, New York, Hong Kong, Italië, Bonn, Washington, Singapore, Keulen en Amsterdam uitgestal.
In sy eie taal verwoord, beskryf die kunstenaar sy uitstalling ‘Vertel/Tell’ soos volg: “... eenvoudig gestel handel my uitstalling – my wérk – oor die kwesbaarheid in die mens. Dít wat ons almal probeer wegsteek; wat in ons almal is ... dit wat oorbly nadat ons platgeslaan is ...
“Die rough beast is heeltyd daarbuite. Hoe oorwin jy hom? Hoe oorwin jy dit sonder om voorspelbaar te word? Of, aan die ander kant, sonder om evil sélf te omarm ... Hoe behou jy die geestelike?
“Gemutileerde onskuld ... Die toestand van die mens.
“Dít is die kern van my werk.”
10 uit 10 - UITSTALLING
Nelspruit Burgersentrum
Hierdie uitstalling vier die tiende bestaansjaar van die Innibos-kunstefees op ’n besondere wyse. Elke jaar word ’n bekende kunstenaar uitgenooi om die feeskunstenaar vir daardie jaar te wees. Voorste kunstenaars soos Esias Bosch, Bettie Cilliers-Barnard, Guy du Toit, Zakkie Eloff, Diek Grobler, Theo Kleynhans, Colbert Mashile, Pieter Binsbergen, Craig Muller en Diane Victor is al genooi.
10 uit 10 is ’n uitstalling van kunswerke deur die afgelope jare se feeskunstenaars wat spesiaal vir Innibos saamgestel is. Dit is ’n uitstalling wat nie net die lewenskragtigheid van die Innibos-kunsuitstallings vertoon nie, maar bied aan die kyker ’n unieke geleentheid om voorbeelde van voortreflike Suid-Afrikaanse kuns te sien. Saam met hierdie uitstalling kan die bestaande Innibos-kunsversameling ook besigtig word.
MY STORIE VIR "DIS ’N STORIE"
Nelspruit Burgersentrum
Met hierdie uitstalling kry dertig Laeveldse kunstenaars die kans om hul eie stories in die vorm van ’n kunswerk aan te bied onder die fees-tema Dis ’n Storie. Aldus bewys hierdie kunstenaars die pragtige waarheid dat elkeen se unieke storie terselfdertyd méér as net ’n eie anekdote is en self op eie bene kan staan as ’n opwindende en wetenswaardige verhaal. Die uitstalling bied die kyker die kans om te deel in die leef- en ervaringswêreld van hierdie kunstenaars.
DIALOOG
Madiba se gunsteling kinderverhale
Nelspruit Burgersentrum
Onlangs het ’n sprankelende versameling van kinderverhale verskyn wat Nelson Mandela gedurende sy jong jare en selfs tot in sy laaste jare oneindige plesier verskaf. Oor hierdie boek sê hy in die voorwoord: “In hierdie versameling word van die oudste Afrika-stories, nadat hulle oor eeue die hele wêreld in baie ander weergawes vol gereis het, met nuwe stemme aan die kinders van Afrika teruggegee. Hierdie versameling bevat baie geliefde stories wat nog die grinterige essensie van Afrika behou, maar universeel in hul uitbeelding van menswees, dierlikheid en die mistieke geword het”.
Die sentrale tema van hierdie uitstalling is die informele samewerking van vyftien kunstenaarpare wat in 2D en 3D werk. ’n Storie uit die boek, wat as tema en inspirasie vir die kunswerke moes dien, is aan so ’n kunstenaarpaar toegewys. Die resultaat is ’n fees van oorspronklikheid, spot, satire en baie lighartigheid. 
WOORD IN BEELD
Nelspruit Burgersentrum
Innibos het vanjaar vir die eerste maal ’n feesdigter aangestel en die keuse het op Johann Lodewyk Marais geval. Die gedigte van Marais, wat vir sy debuutbundel die Ingrid Jonker-prys ontvang het, gaan vele dimensies kry en alle sintuie gaan ingespan word in die belewing daarvan.
Visuele kunstenaar, Jaco Sieberhagen gaan met sy uitsonderlike talent lyf gee aan hierdie gedigte. Met sy fyn aanvoeling vir vorm, lyn en spasie gaan hy met sy yster en staal-beeldhouwerke Marais se gedigte in ’n storie omskep.
UMJINDI-JUWELIERSWARE
Nelspruit Burgersentrum
Genestel aan die voet van die 3.5 biljoen jaar oue Makonja-berg (een van die mooiste gesigte en goudryke plekke in Suid-Afrika) is Umjindi Jewellery Project ’n gemeenskapsontwikkelingsinisiatief wat persoonlike ontwikkeling en opheffing ten doel het. Skeppende vermoëns word ontwikkel, nie slegs om inkomste te verdien nie, maar ook om mensverrykend te wees. Die projek word deur die Barberton Myn (Edms.) Bpk. ondersteun en is geleë in dieselfde gebou as die Museum in die Barbertonse erfenislooppaadjie.
Oor die jare het Umjindi Juweliersware hul eie unieke reeks silwer juweliersware ontwikkel wat geïnspireer is deur Nukain Mabuza en by vanjaar se Innibos Kunstefees geloods word. Mabuza, wat in die Barbertonse gebied gelewe het, het beroemdheid verwerf met sy “Rotstuin” van geverfde klippe in hul natuurlike omgewing op pad na Kaapmuiden. ’n Versameling van hulle werke is by die Burgersentrum te sien en ’n werkwinkel word ook op Donderdag, 27 Junie by Umjindi aangebied. (Sien inligtingblokkie.)
| JUWEELKUNS-WERKWINKEL Umjindi Jewellery Studio, Barberton 27 Junie 2013 vanaf 10:00 tot 16:00 Koste: R350,00 per persoon Met hierdie werkswinkel word jy aan die verskillende gietprosesse wat in ’n juwelierswerkswinkel gebruik word, blootgestel. Daarna volg ’n waskerf demonstrasie wat die verskillende modulerings-tegnieke verduidelik, waarna elke deelnemer self ’n klein juweelstuk op dié manier gaan vervaardig. Jy het geen ondervinding nodig nie, dit leer jy aan tydens die werkswinkel. Nadat jy jou juweelstuk in was gekerf het, gaan ons dit vir jou in silwer giet, afwerk en poleer. Dit sal op Saterdag 29 Junie 2013 om 16h00 beskikbaar wees om afgehaal te word. Die koste sluit in: materiale, gebruik van toerusting, koffie/tee, ’n ligte middagete, giet en afwerking, en aflewering van juweelstuk. Hierdie koste sluit egter nie die silwer in waarin die juweelstuk gegiet gaan word nie. Dit word individueel geweeg en per gram uitgewerk. Omdat slegs 10 persone by hierdie werkswinkel geakkommodeer kan word, moet die R350.00 in kontant op Woensdag, 26 Junie 2013, tussen 12h00 en 15h00 by Nandi Hilliard in die Banketsaal van die Burgersentrum betaal word. Bespreek by Nandi Hilliard voor 26 Junie 2013 by 083 288 5117. |
’N KRONKELPARADYS MET ’N STORIE
KUNSTEKRONKEL BEGELEIDE TOER
Buiten die fees se hoof-uitstalling wat in die Nelspruit Burgersentrum te sien is, is daar ook ’n paar ander plekke waardeur die fees-kunsliefhebbers kan kronkel om “Kuns met ’n Storie” te besigtig. Hierdie jaar word begeleide toere met ’n toerleier aangebied. Kaartjies vir hierdie roete is by Computicket beskikbaar en kan ook op ons webblad www.innibos.co.za aangekoop word. Koste is R102.00 en sluit ’n ligte middagete en ’n glasie wyn in. Die bussie vertrek vanaf Van Riebeeckpark Kunsgalery, Nelspruit, om 10:00 en sal weer om ongeveer 14:00 terug wees. Toere vind daagliks vanaf Woensdag, 26 Junie tot Saterdag, 29 Junie plaas en slegs ’n beperkte aantal plekke is beskikbaar.
BESOEKPUNTE
1. VAN RIEBEECKPARK-SAAL
Die Mbombela Kunsgalery is die begin- en eind-besoekpunt van die Kunstekronkel. Plaaslike kunstenaars (onder andere Lebo Tamae, Jax Boshoff, Charl Bruwer, Linda Shongwe, Hester Louw, Bob Mnisis, Liz McQueen, Marietjie Henning, Morris, Michael Rigby, Celia Wessels en Multa) se kunswerk in die hoof galery, Afdeling A.
In Afdeling B kan die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit se Kunsversameling besigtig word en sluit kunswerke in van: Salvador Dali, Walter Batiss, Thinus de Jong, Lucky Sibiya, Judith Mason, Zakkie Eloff, Esias Bosch en Keith Alexander.
Gemengde medium en beeldhouwerk word in Afdeling C uitgestal en sluit werke in van Bob Mnisi en Multa.
Lede van die Laeveld Kunsvereniging stel hul kunswerk op die boonste vlak van die saal ten toon.
Besoekers aan die galery het ook die geleentheid om informele kunswerke op die buite-terrein te besigtig.
Enige navrae: Kontak Marietjie Henning – 013 759 2043 of 083 560 6057.
2. MICA NELSPRUIT, CROSSING WINKELSENTRUM
By Mica gaan kunstenaars hierdie jaar deelneem aan ’n baie opwindende projek: “gesamentlike kuns-in-aksie”.
’n Groep kunstenaars gaan gelyktydig een groot kunswerk skep. Die tema van die projek is gebaseer op die viering van Innibos se tiende bestaansjaar.
Dié projek sal gedurende Innibos in aksie te sien wees, vanaf Woensdag 26 Junie tot Saterdag 29 Junie tussen 10:00 en 12:00.
Toeskouers is welkom om die kwaste saam op te neem en deel te wees van hierdie projek. Die voltooide kunswerk sal opgeveil word en die opbrengs word aan WESSA geskenk.
Verskeie Laeveldse kunstenaars se werke sal ook by Mica uitgestal word.
3. THE LOOP ART FOUNDRY & GALLERY
The Loop Art Foundry tussen Nelspruit en Witrivier is ’n tuiskoms vir kunsliefhebbers en –versamelaars. Dit is ook ’n funksionele beeldwerk-gietery en galery waar verskeie kunstenaars se werke uitgestal word. Die galery is op die oomblik besig om van die lewensgrootte beeldhouwerke van mense wat deel van die Heritage-projek is, te giet. Van Tienie Pritchard se indrukwekkende beelde is ook hier te sien.
Navrae: Kontak Leoni 013 751-3001 of 083 413 7541.
4. BOSCH KERAMIEK ATELJEE EN GALERY
Anton en Hanlie Bosch werk vanaf hul ateljee in die buitewyke van Witrivier waar hulle ’n verskeidenheid kontemporêre keramiekwerke skep. Dit sluit in porseleinvase, -bakke en -borde, groot dekoratiewe muurpanele en beeldhouwerke. In die galery word ook van Anton se inktekeninge uitgestal asook skilderye en waterverwe van Hanlie.
Kontak: Anton 083 456 3272 en Hanlie 082 321 4318.
5. ESRA BOSCH
Esra Bosch is sinoniem met ongelooflike keramiek- en pottebakkerswerk en is welbekend vir haar veelkleurige reeks van individuele en funksionele produkte. Die estetiese en visuele kwaliteit van elke werk is vir die besoekers aan die ateljee ’n onvergeetlike ondervinding. Esra se toegewydheid aan haar werk spoel oor na haar omgewing en dit is duidelik waarneembaar in die warm atmosfeer van die ateljee waarin haar werke uitgestal word.
Navrae: 013 751 2859
6. FARMSTYLE LIFE CENTRE
Verskeie kunstenaars en ateljees se werke word by die Farmstyle Life Centre uitgestal en deelnemers aan die Kunstekronkel kan in ’n ontspanne luim na uitgesoekte werke kyk. Hier word as ligte middagete heerlike tapas en ’n glasie wyn bedien vir diegene wat die begeleide toer by Computicket bespreek het. Hierna vertrek die Kunstekronkel-bussie terug na die Van Riebeeckparksaal in Nelspruit wat die kronkelroete voltooi.
Navrae: Lise by 013 750 0616 of 082 333 8367 en Cornel by 083 326 1903
PUNTE WAT SELF BESOEK KAN WORD
Maak ’n afspraak en besoek gerus ook die volgende punte.
• Stoep (Nelspruit) 013 741 2551
• Bohemian Groove Café (Kaapsehoop) 013 734 4545
• Sheppard Boutique Hotel (Nelspruit) 013 752 3394
• Celeste’s Art Studio (Nelspruit) 083 450 9767 gaan werke van die volgende kunstenaars uitgestal word: Ilona Petzer, Annalie Odendaal, Mariana Zwaan de Bruin, Kato Neveling, Erica Schoeman en Celeste Higgs.
INNIBOS-FEESTERREIN
Die Kunspark op die Innibos-feesterrein is nog ’n plek waar kunsliefhebbers hoogstaande kunswerke kan besigtig en verskeidenheid skiet nooit te kort nie. Iets vir elke smaak is te vinde en hier word dit regtig ’n storie om te kies uit die ongelooflike samestelling van galerye en werke van uitstallers! Maak sommer ’n la-a-a-ng draai deur die kunspark en verlustig jou in die kaleidoskoop van kleure.
Die Visuele Kuns van Innibos 2013 is ’n storie om te beleef en deel van te wees!
INNIBOS SE NUWE KUNSKURATOR
Pieter van Heerden
Pieter van Heerden, die Direkteur van die Kunsvereniging Pretoria, is welbekend in kunskringe en word landswyd hoog geag. Hy was die eerste kurator van die Staatsteaterkunsgalery en sedert 2000 beklee hy sy huidige pos. Hy is ook hierdie jaar aangestel as Innibos se kunskurator. Hy was die afgelope aantal jare ’n ou bekende in Innibos-kringe waar hy reeds vir enkele jare die kunsuitstalling help organiseer en ingerig het. Almal wat Pieter ken, praat met groot lof nie net van sy toewyding aan die visuele kunste en sy omvattende kennis nie, maar van sy hartlike en uitgaande persoonlikheid.