
ATKV – Boma-kuierteater
Die ATKV Boma-kuierteater op die feesterrein bied weer hierdie jaar kort eenmanvertonings, toneelproduksies en interessante onderhoude aan feesgangers. Hierdeur word die feesgangers ook aan teater en ander kunsvorme blootgestel en nie net musiek nie. Die ATKV Boma Kuierteater was verlede jaar baie gewild en het deurgaans ’n volgepakte gehoor gehad. Die publiek en die media se reaksie op hierdie inisiatief was geweldig positief en daarom is besluit om dit verder uit te bou deur uurliks produksies aan te bied. Alle vertonings by die Boma Kuierteater is gratis (slegs hektoegang).
Ek’s Anoniem, ek sê! – Ian Wessels
Datum en tyd: Wo 26 Junie 16:00, Do 27 Junie 15:00, Vr 28 Junie 16:00, Sa 29 Junie 13:00
Ondersteun deur RSG.
Al ooit gewonder wat jy vir jou baas (of jou vrou) sal sê as jy dit anoniem kon doen? Anders as onder jou eie naam, kan jy dan mos lekker eerlik en spontaan reageer! In Ek’s Anoniem, ek sê! hou Ian Wessels van RSG sy lyf Anoniem en bekyk ’n klompie sulke situasies by die werk, in die mall, op lughawens en in die fliek. Hy vat ook Anoniem se spoor elders - van destyds se Hoekie vir Eensames tot by vandag s’n - Facebook natuurlik! En net om seker te maak jy lag lekker, doen Ian ook die leeuloop, ’n bietjie ballet en ’n tango - alles Anoniem natuurlik!
Moeders en dogters
Dramawenner Jessica Verwey
Datum en tyd: Wo 26 Junie 11:00, Do 27 Junie 11:00
Innibos het verlede jaar ’n drama-werkswinkel aangebied en Jessica Verwey het die kompetisie gewen en het ’n jaar lank drama-klasse by die bekende Annette Engelbrecht geloop. Nou het sy die verhoog om aan feesgangers te wys wat in haar steek. Sy gaan die monoloog Moeders en dogters, geskryf deur Corlea Fourie, doen. Kom kyk gerus na die nuwe talent so reg uit die Laeveld.
Uittrek, Intrek en Trou
Met Stephan Barker en Janri Myburgh
Datum en tyd: Wo 26 Junie 12:00, Do 27 Junie 14:00
Verhoudings is te ingewikkeld om net in ’n boks te sit ... Sif, sorteer, skuif, weggooi, vind, toedraai, inpak, uittrek, intrek en trou. Huis oppak is net die begin. Hierdie romantiese komedie ondersoek die lewe van ’n verloofde paartjie op die punt van trou. In die proses van huis oppak word daar probleme en geheime aan die lig gebring wat al lankal uitsorteer moes gewees het.
Wat staan ’n mens te doen?
Divan Coetzer
Datum en tyd: Wo 26 Junie 18:00, Do 27 Junie 12:00
Voeg ’n flambojante chef, twee gasbottels, baie wyn, ’n nuwe haarstyl en boererate bymekaar. Klop tot styf en geniet! Divan Coetzer se skreeusnaakse nuwe “kookprogram” is ’n nostalgiese komedie wat erkenning gee aan wat agter die skerms gebeur as die krag afgaan en jou gaste kom oor ’n uur. Kom lag en kuier saam as Elsa Hitge jou leer “hoe om jou ouma se resep so op te donner dat almal dink jy is van die buiteland af …” Divan (Elsa) gee graag een van sy of haar resepte as saamvattertjie na elke vertoning.
Annale van ’n Windgat
Met Neels Clasen
Teks en regie: Barry van Rensburg
Datum en tyd: Wo 26 Junie 13:00, Do 27 Junie 18:00, Vr 28 Junie 11:00, Sa 29 Junie 15:00
Neels Clasen het verlede jaar feesgangers vermaak met hierdie skreeusnaakse komedie wat oor persoonlikheidstipes en kommunikasiestyle handel. Vanjaar bring hy grepe hiervan na die Boma Kuierteater. Die woord gat word deurgaans in sy idiomatiese sin en as metafoor vir persoonlikheid gebruik. Die krag van die stuk is dat elke mens hom kan identifiseer met die persone en situasies wat uitgebeeld word. Dit is ’n laugh-a-minute maar met dié verskil dat daar ’n skeut lewenswysheid bygevoeg word. En dit sonder ’n enkele vloekwoord. Kom geniet en leer jouself beter ken.
Albert Maritz gesels met …
Datum en tyd: Wo. 26 Junie 17:00, Vr. 28 Junie 13:00
Veteraan akteur en regisseur Albert Maritz gesels in hierdie program met bekende akteurs in die teater en televisiewêreld. Woensdag gesels hy met die baie bekende akteurspaar Wilson Dunster en Elize Cawood. Hier gaan beslis ’n paar geheime oor dié akteurspaar uitgeblaker word. Hierdie beloof om ’n insiggewende onderhoud te wees, want Wilson en Elize is gesoute akteurs wat die teater en filmwêreld goed ken.
Vrydag gesels Albert met Gys de Villiers wat as een van die beste Suid-Afrikaanse akteurs beskou word. Gys de Villiers is ongelooflik veelsydig en kan selfs verskeie musiekinstrumente bespeel. Albert gaan met hom gesels oor sy teaterwerk, sy filmwerk, sy inspirasies en sy produksie Wit manne se wapens wat by Innibos gedebuteer het. Kom luister gerus na hierdie onderhoude en leer die mens agter die karakters ken.
Paloekas – dagboek van ’n single girl
Met Lulu Botha.
Datum en tyd: Wo 26 Junie 14:00, Do 27 Junie 17:00, Vr 28 Junie 15:00
Wat moet ’n meisie doen as die paddas nie prinse word nie? Tilla vra die tydlose vraag: “Hoekom stuur julle altyd ’n flippen padda?” In haar soektog na “die een” kom die een ná die ander paloeka op Tilla se pad. In hierdie eenvrouvertoning gee haar Tilla-karakter raad oor die liefde – van hoe om die “alfa-paloeka” uit te ken tot waar die pad na ’n man se hart lê.
Dame ’n Komedie
Met Ciske Kruger (Getroud met Rugby, Bakgat 1,2 & 3, 7de Laan) en Odelle de Wet (Isidingo & Binnelanders).
Teks: Christien le Roux en Petrone Enslin
Regie: Christien le Roux
Datum en tyd: Wo 26 Junie 15:00, Do 27 Junie 13:00
Kom ontmoet Cecilia, ’n ryk, bedorwe, maar komplekse karakter en haar huishoudster Esther, met die gladde bek wat maar net nie ’n wag voor haar mond kan plaas nie. Hulle maak reg vir ’n dinee, maar dan begin die een na die ander gaste kanselleer. Om hulle teleurstelling te verwerk, word die cognac nadergesleep en word hierdie vreemde, komplekse verhouding tot die spits gedryf.
Hannes Brümmer
Datum en tyd: Do 27 Junie 16:00, Vr 28 Junie 17:00, Sa 29 Junie 14:00
Kom kyk na Hannes Brümmer se skreeusnaakse vertoning waarin hy kommentaar lewer oor sosiale kwessies. Hannes praat sonder skroom oor sy misnoeë met die stryd tussen die geslagte, die media en die stand van Afrikaans. Hy vertel met hope energie van sy wedervaringe met ’n tong wat feitlik deur sy kies bars en al is hy effens stout en sinies, bly hy altyd eerlik en skreeusnaaks. Moenie hierdie bekwame akteur, komediant en improviseerder misloop nie.
Innibos Feesdigter
Met Johann Lodewyk Marais en Annemarie van der Walt.
Datum en tyd: Sa 29 Junie 12:00
Innibos het vanjaar die voortou geneem om ’n feesdigter aan te wys wat spesiaal gedigte vir die fees geskryf het. Annemarie van der Walt gesels met dié bekende woordkunstenaar oor sy passies in die lewe en waaruit hy sy inspirasies put. Kom leer die mens agter die gedigte ken.
Francois Jacobs is Turbo van Tonder
Datum en tyd: Sa 29 Junie 11:00
Hierdie jong talentvolle akteur het die feesgangers verlede jaar bekend gestel aan Turbo van Tonder. ’n Man wat die liefde, die lewe en elke dag se uitdagings benader soos wat hy ’n enjin in sy werkwinkel tune. Hy scheme hy hét dit om dit in die vermaaklikheidsbedryf te maak, maar eers moet hy die bedryf transformeer. Turbo se body tuning sessies is die ultimate oplossing vir kunstenaars met drillende dye, boepmagies en hygende asems! Kom lag saam en kry jou turbo charged-brandstofinspuiting vir die dag.
Stoepstories met Ollie Viljoen, Arno van Zyl en Pietman Geldenhuys
Datum en tyd: Vr 28 Junie 18:00, Sa 29 Junie 18:00
Jare gelede het ons almal Vrydae-aande saamgepak voor die televisie gesit om ons te verlustig aan die skreeusnaakse stories wat Spies en Plessis gaan opdis. Spies en Plessis was so deel van die nasie soos wat die kenmerkende trekklavierwysie was. Nou, 20 jaar later is Stoepstories steeds in ons midde met die nimlike Ollie Viljoen, die skreeusnaakse Arno van Zyl en die eksentrieke Boere-Skot Peter Mitchell (of te wel Pietman Geldenhuys). Maak jou reg vir ’n skatersessie soos min, want Ollie se stories is vlymskerp, Arno s’n volksbesit en Pietman s’n lekker tong-in-die-kies.
Oppermanaf
Met Frank Opperman.
Datum en tyd: Vr 28 Junie 12:00, Sa 29 Junie 16:00 
In Oppermanaf is Frank Opperman op sy beste. In hierdie vertoning deel hy wenke uit oor hoe om chaos te skep en ’n totale mislukking te wees. Kom beleef en geniet hierdie veelsydige akteur in hierdie skreeusnaakse eenmanvertoning.
Waterpas
Met Wessel Pretorius en Francois Jacobs.
Datum en tyd: Vr 28 Junie 14:00
Gys en Jos is roeikampioene en beste vriende. Tydens ’n wedvaart op die Krokodilrivier slaan hul bootjie om en spoel die twee op die oewer van die rivier uit. Terwyl hul wag vir die reddingspan om op te daag, kry dié twee vriende tyd om op te vang, ’n paar kwessies te herkou en miskien ook ’n bietjie te filosofeer. Dan gewaar hulle ’n skuitjie in die verte al nader kom …
Mond van oor
Met Wessel Pretorius.
Datum en tyd: Sa 29 Junie 17:00
Jurgens is die klubrugbykaptein van ’n klein plattelandse dorpie. Hy eet, drink en slaap DIE BAL. Dan ontmoet hy vir Matilda – die nuwe meisietjie van die groot stad wat ’n dramaskooltjie op die dorp begin het: smiddae vir die jonges, saans vir volwassenes. Jurgens kan die versoeking nie weerstaan nie. Nou – tot sy ore toe verlief - sit hy in sy eenslaapkamerwoonstel en oefen vir die volgende dag se spel. Hy deel sy gewaarwordinge oor toneel, die liefde en homself, asook sy planne om Matilda van haar voete af te vee.