spacer

Apies Innibos

KOOWEE APIES INNIBOS

KooweeKoowee Apies Innibos is ’n unieke kindervenue in Hoërskool Bergvlam se skoolsaal op die feesterrein. Hier kan kleingoed tussen 3 en 12 heerlik kom speel en uitspan! Daar is elke dag vanaf 11:00 tot 17:00 ’n propvol vermaakprogram waar baie pret-aktiwiteite aangebied word.

Apies Innibos word deur die kinderkanaal Koowee geborg wat vir Afrikaanse kindervermaak uit die boonste rakke sorg. Tjiff en Tjaff is twee karaktertjies van dié televisiekanaal en nooi die kleinspan om saam met hulle te kom kuier. Hulle gaan saam met die maats sing en dans en sommer hope pret hê. Daar is baie pryse op die spel vir die brawe kindertjies wat dit op die verhoog waag. Na die vertoning kry maatjies die geleentheid om die twee te ontmoet om ’n drukkie te kry. Kom neem gerus foto’s en tweet, SMS, facebook dit gerus. Moenie hierdie geleentheid misloop nie!

Om die kleinspan daagliks kreatief besig te hou, is Crafty Kids daar met hope opwindende aktiwiteite. Hulle gaan die kinders leer hoe om ’n pom-pom-boom uit wol, karton en verf te maak, prentjies met olieverfpastelle en kleursel inkleur, prettige dieremaskers optower en uitgegraveerde borde verf. Daar gaan geen vervelige oomblik met hierdie interessante aktiwiteite wees nie.

Koningskos is ’n poppekas wat kinders leer om die Bybel as riglyn in die lewe te gebruik. Met Grusty, die gemors-monster, en vele ander kleurvolle karakters en liedjies, word die waarheid van God se Woord op ’n genotvolle en snaakse wyse gebring wat die kinders se harte gaan raak. Wouter de Witt alias “ghost”, sy vrou Melanie, en die foamheads sorg vir propvol vermaak en geestelike voedsel. Kom geniet die vertoning saam met jou kinders – dit gee jou dalk iets om oor na te dink.

Oudergewoonte is David Dee weer daar in sy verskillende gedaantes om met sy kulkunsies vermaak vir oud en jonk te verskaf. In sy Apies is Plesierig en Fluit, fluit my storie is uit neem hy die kleinspan op ’n reis van towerkuns, pret en plesier. Kom kyk met genot en bewondering na die vertonings en krul van plesier!

Al die pad vanaf Port Elizabeth is Splashout Puppets hierdie jaar vir die eerste keer by Innibos. Met pragtige kleurvolle poppe gaan dié poppekas jou asem wegslaan. Daar is ’n babakalfie en ander snaakse karakters uit poppekasland wat kinders op ’n speelse manier gaan leer van reg en verkeerd, higiëne, hoe om veilig te bly en hoe gevaar vermy kan word. Kom ontmoet dié karakters wat in alle vorme en gedaantes voorkom: van grootbekpoppe tot yslike groot teddiebere.

Willie en die Wenspan het woema en verkondig die evangelie deur sang en musiek. Hierdie span het al vele toekennings ontvang onder andere die ATKV Liertoekenning vir beste kinderalbum en ’n Ghoema nominasie vir 2012. In hierdie interkerklike bediening leer hulle kinders oor gehoorsaamheid, netheid, lojaliteit, respek en vele ander. Met musiek en interaksie het hulle ’n positiewe impak op die kleingoed.

Die jongspan wat lief is om na stories te luister, kan gerus na Johan Cilliers se Kraakvars Kinderstories kom luister. Johan Cilliers is ’n veelsydige stemkunstenaar en die skrywer en verteller van hierdie stories. Die stories fokus daarop om morele waardes onder jong kinders te versterk. Kom luister na die storie van die ontsnapping van die pikkewyne, die skoolseuns se avonture by die huis op Spookbult, na die slim Buksie Muis van die Nasionale Muisintelligensie en na die tortelduiwe wat ’n groep vliegduiwe agternasit. Heerlike stories wat jou op ’n verbeeldingsvlug sal wegvoer.

Tussen al hierdie vermaak deur is daar natuurlik ook baie ander aktiwiteite wat by Apies Innibos aangebied word. Daar is tafeltjies en stoeltjies waar kleinspan na hartelus kan inkleur en verf, knip en plak, kleispeel en blokkiesbou. Alles onder die waaksame oog van bekwame personeel.

KINDER OPPASDIENS OP DIE FEESTERREIN
Die ATKV Laeveld-tak bestuur die Apies Innibos aktiwiteite en ouers kan hul kinders met ’n geruste hart hier in die bekwame hande van tannie Zelda en haar knap span laat. Kleintjies moet in- en uitgeteken word, maar die groter kinders is welkom om te kom en gaan soos hulle wil.

’n Kinder-oppasdiens is ook daagliks beskikbaar. Ouers wat graag ’n produksie wil bywoon of net in vrede tussen die stalletjies wil gaan stap, kan gerus van hierdie diens gebruik maak.

Daar is ook ’n aand-oppasdiens. Matrassies waarop die kleingoed kan slaap, ’n kinder DVD, inkleurgoed en speletjies word gebruik om die kleingoed besig te hou en bekwame personeel sien na die kleintjies om teen ’n billike tarief. Vir enige navrae skakel Zelda by 083 280 3498.

aapiesWeb

blog

comp2

facebook_icon twitter_icon youtube_icon

mainsponsors

Toegangsfooie en Kaartjieverkope

Soek

Teken in op Tjirp

Naam:
Epos: