
![]()
Met Randall Wicomb, Deon Meyer, Albert Maritz, Sorina Erasmus, Wessel Pretorius, Romanz en die Limited Edition Drum Corps.
Datum en tyd: Do 27 Jun 13:00, 15:00 en 17:00
Plek: Sudwala-grotte
Tydsduur: 240 minute
Gradering: Volwassenes
Kaartjieprys: R280 (ligte verversings en drinkgoed ingesluit)
Busse vertrek vanaf die Innibos Feesterrein se Hoofingang, Hek 3.
Wyn geborg deur Van Loveren.
Produksie geborg deur Rapport en ondersteun deur Sudwala-grotte, Sudwala’s Kraal en Van Loveren wyne.
’n Innibos-produksie
Woorde is ’n manier om die lewe aan die keel te gryp ... hetsy in ’n lied, ’n dramateks of ’n verhaal. Skrywers laat woorde los en maak hulle vry. So word stories gebore …
Die Rapport Boeke-crawl is ’n unieke ervaring vir woordliefhebbers. Vir hierdie geleentheid gaan ons vanjaar verskillende atmosfeerryke plekke besoek in die omgewing van die Sudwala-grotte. Die crawling skop af in Nelspruit waar ons op ’n bus klim en al kuierende na die Sudwala-vallei vertrek. Met die aankoms daar begroet die Afrika klanke van plaaslike dromslaners die crawlers. Die Sudwala Pavilion is die eerste aandoenplek. Hier gaan Randall Wicomb liefdesverse van Afrikaanse digters soos Eugene Marais, C Louis Leipoldt, N.P. Van Wyk Louw, Adam Small en andere wat deur hom getoonset is, sing. Ideaal vir romantiese siele wat hou van lirieke wat kan raaksê. By Sudwala-lodge oorkant die pad kom die bekroonde spreurverhaalskrywer, Deon Meyer aan die beurt. Nie net gaan hy die aap uit die mou laat oor sy jongste draaiboek en film Die Laaste Tango nie, maar ook oor sy nuwe boek wat tans in wording is. Albert Maritz gaan met hom gesels oor sy nuwe film en nuwe speurverhaal, uit dié boek voorlees sodat crawlers ’n voorsmakie kry van die avonture wat wag. Hierna durf die bus die berghange aan tot by Pierre’s Mountain Inn waar Sorina Erasmus Langenhoven op ’n nuwe, vars en vindingryke manier met woord en liriek gaan uitbeeld. Daarvandaan stap ons die pad na die Sudwala-grotte waar die Limited Edition Drum Corps (spesiaal uit die Kaap ingevoer) die kranse gaan laat antwoord gee. Die eindbestemming is die eeue-oue Sudwala-grotte waar die misterie van die liefde in woordkuns gelei deur die bekroonde akteur, Wessel Pretorius, saam met die musikale klanke van die sanggroep, Romanz, aangebied word.
Na ’n genotvolle reis deur die landskap van woorde, neem die busse die kronkelpad terug Nelspruit toe.