
La Villa Vita Klassieke Kamers
Met Von West, Ronella van Rensburg en The South African Sopranos (Lynelle Kenned, Janelle Visagie en Goitsemang Lehobye), Chris Coetzer, Hardus Hartzenberg, Eleganza, Theresa Prinsloo en Rozelle Sunkel.
Gradering: Gesin
Datum en tyd: Wo 26 Junie 11:00, Do 27 Junie 11:00 en 14:00, Vr 28 Junie 11:00 en 14:00, Sa 29 Junie 10:00.
Venue: La Villa Vita
Tydsduur: 120 minute
Prys: R102
Hierdie produksie vind plaas by La Villa Vita, ’n pragtige gastehuis wat soos ’n kasteel lyk. Teatergangers gaan van lokaal tot lokaal stap waar hulle met die mooiste ligte klassieke musiek betower gaan word. Die deurlopende tema is die werke van Verdi. Kom luister hoe dié tema deur verskillende musiekstyle aangepak gaan word.Die ontvangs is in die sitkamer waar plaaslike talent Theresa Prinsloo en haar student, Rozelle Sunkel, werke op die harp gaan uitvoer. Theresa is al van kindsbeen af doening met musiek. Sy was die enigste B.Mus.-student aan Tukkies wat ’n dubbele graad in die uitvoerende kunste, cum laude in harp en klavier verwerf het. Sy het ook aan die Parys se Concervetoire de Musique gestudeer. Kom luister hoe hierdie harpspeler van wêreldformaat saam met Rozelle Sunkel werke van onder andere Bach, Verdi, Mascagni en Debora Henson uitvoer.Daarna gaan feesgangers na die eetsaal waar Von West optree. Von West is die romantiese kombinasie van tenoor Dewald von West en die rocker Pieter West. Hierdie oënskynlike vreemde duo tower die mooiste musiek op wanneer die helder klanke van tenoor met die rou en robuuste klanke van rocker gekombineer word. Verwag ’n eiesoortige program vol opwinding. Voordat teatergangers na die volgende aanbieding beweeg, word ’n heerlike koppie sop genuttig. Vanaf die opelug-verhoog en balkon gaan Hardus Hartzenberg, Chris Coetzer en die pragtige dames van Eleganza die feesgangers betower met ’n enkele stukkie uit die hemel. Kom luister na die veelsydigheid en besondere stemvermoë van Chris Coetzer, lid van ons eie plaaslike Drie Tenore. Saam met Hardus Hartzenberg en Eleganza gaan hulle ’n vertoning uit die boonste rakke lewer. Daarna stap teatergangers na die pragtige klipkerkie waar The South African Sopranos die vertoning op letterlik en figuurlik ’n hoë noot afsluit. Hierdie groep bestaan uit 3 opera-sterre: Lynelle Kenned (sopraan), Janelle Visagie (sopraan), Goitsemang Lehobye (sopraan). Hulle word begelei deur die gevierde pianis Ronella van Rensburg. Hierdie groep het in afsonderlike hoedanighede al opgetree voor onder andere: Nelson Mandela, Graça Machel, Koningin Elizabeth II, Koning Gustav van Swede en Koningin Beatrix van Nederland. Dié superstemme sing musiek uit operas, operettes, musiekblyspele en kabarette! Verwag vuurwerke, stemtoertjies en bowenal die mooiste vokale musiek ooit. Kom sit agteroor en geniet hierdie produksie van uitstaande gehalte. Dit sal beslis ’n blywende indruk laat.
Neem asseblief kennis dat feesgangers self na die venue moet ry. Volg die borde vanuit Van Wykstraat.
La Villa Vita Gastehuis
In die middel van Nelspruit, omring deur natuurreservate, maar slegs vyf minute vanaf die Nelspruit besigheidsdistrik is "Die Villa Lewe". 'n Elegante Toskaanse herehuis met hoë plafonne, klip mure, volledige fasiliteite en die fynste afwerkings omring deur prag tuine, uitstekende privaatheid en hoogstaande sekuriteit. Naweek-, besigeids- en vakansie besoekers asook konferensie-, troue- en funksie -angers geniet daagliks die vreedsame atmosfeer, heerlike etes en skitterende diens van hierdie juweel in die middel van die mooie stad Nelspruit.
