
Reg langs Inniboskantoor is die nuwe Agterstoep van die Stoep-restaurant waar vanjaar se boekeprogram gaan plaasvind.
Innibos Feesdigter Johann Lodewyk Marais @ Boeke OppiSTOEP
Met Johann Lodewyk Marais, Andries Bezuidenhout, Elize Cawood en Luna Paige.
Datum en tyd: Vr 28 Junie 11:00
Venue: Stoep Restaurant (langs Inniboskantoor)
Tydsduur: 55 minute
Prys: Gratis (Bespreek by 013 – 741 2551, slegs 100 plekke beskikbaar.)
Vanjaar het Innibos die voortou geneem en ’n Feesdigter aangewys wat gedigte spesiaal vir die fees geskryf het. Johann Lodewyk Marais is ’n bekende skrywer wat al 8 digbundels die lig laat sien het, waarvan die bundel In die bloute die jongste is. Hiermee verdien hy sy plek as vernuwende digter in die letterkunde. Tydens hierdie vereringsgeleentheid gaan aktrise Elize Cawood ’n oorsig oor die digter se lewe gee en van sy gedigte voorlees. Prof. Andries Bezuidenhout gaan ’n onderhoud met die feesdigter voer. Die program word afgesluit deur Luna Paige wat gedigte van Johann Lodewyk Marais sing, wat sy spesiaal vir die geleentheid getoonset het. Hierdie produksie is enig in sy soort en liefhebbers van die letterkunde moenie hierdie geleentheid misloop nie.
Fransjohan Pretorius @ Boeke OppiSTOEP
Met prof. Fransjohan Pretorius en prof. Andries Bezuidenhout (gespreksleier)
Datum en tyd: Sa 29 Junie 10:00
Venue: Stoep Restaurant (langs Inniboskantoor)
Tydsduur: 55 minute
Prys: Gratis (Bespreek by 013 – 741 2551, slegs 100 plekke beskikbaar.)
Wie was die eerste mense van Suid-Afrika? En wie het daarna gekom? Hoe het die interaksie tussen Afrikaners die Britse regering en swart mense die land help vorm? Waar staan ons vandag as ’n nasie? As jy antwoorde op hierdie vrae wil hê, kom luister na Fransjohan Pretorius, professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria en redakteur van die topverkoper Verskroeide aarde en Geskiedenis van SUID-AFRIKA. Hy glo dat die geskiedenis wat tans voorgehou word, bloot struggle-geskiedenis is en ’n eensydige weergawe van die verlede is. Dit is juis daarom dat die Geskiedeniskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns besluit het om ’n geskiedenis van Suid-Afrika saam te stel wat inklusief is, en 'n gebalanseerde weergawe van die verlede probeer bied. Prof. Andries Bezuidenhout van die Departement Sosiologie van die Universiteit van Pretoria is die gespreksleier en gaan die onderhoud met hom voer. As geskiedenis jou na aan die hart lê, sorg dat jy hierdie geleentheid bywoon.