spacer

Filmfees

Flieke sonder Brieke by die KykNET Bosbioskoop

kykNET logo A5 KYKNET SSF LOGO-new


Die KykNET Bosbioskoop is ʼn gratis fliekvenue op die feesterrein. Vir diégene wat al moeg van die roesemoes en baie stap op die feesterrein is, bied die Bosbioskoop nie net ʼn rusplek vir moeë voete nie, maar ook die geleentheid om van die beste Afrikaanse kortfilms wat in 2012 by die KykNET Silwerskermfees vertoon is, te sien. Silwerkerm pryswenners in die vollengte film-afdeling sal ook vertoon word, en daar is ook ʼn spesiale voorskou van Deon Meyer se splinternuwe rolprent, Die laaste Tango, wat eers op 5 Julie in teaters begin draai.
Die Afrikaanse rolprentbedryf het in die afgelope paar jaar ʼn ongekende bloeitydperk beleef. Die KykNET Bosbioskoop is vir elke feesganger die geleentheid om te deel in die opwinding van nuwe stemme op én agter die silwerdoek!

KykNET BOSBIOSKOOP PROGRAM
DIE WONDERWERKER
Datum en tyd: Wo 26 Junie 14:00, Sa 29 Junie11:00
Die Wonderwerker is ’n rolprent oor die Suid-Afrikaanse digter en natuurkenner, Eugène Marais se verblyf by ’n gesin in die Waterberg in Limpopo terwyl hy in 1908 daar navorsing gedoen het oor termiete en bobbejane. Die prent is gegrond op die tydperk toe Marais siek was aan malaria. Dawid Minnaar is knap as Marais, en Elize Cawood het met die Silwerskerm-toekenning as beste aktrise weggestap vir haar vertolking van Maria van Rooyen. Die Wonderwerker het ook met die louere weggestap in die kategorie vir beste film op die Silwerskerm Filmfees. Hierdie prag-rolprent waarvan die draaiboek deur Chris Barnard geskryf is en die regie deur Katinka Heyns waargeneem is, moet ten alle koste gesien word
wonder-web

 VERRAAIERS
Datum en tyd: Do 27 Junie 11:00
Verraaiers is ʼn verhaal wat afspeel in die tyd van die Tweede Vryheidsoorlog. Dit vertel die universele verhaal van die opoffering en moed van vegters wat moet kies tussen die beskerming van hul families en die samesmelting met die onderdrukker teen wie hulle veg. Onder die bekwame regisseurshand van Paul Eilers skitter akteurs soos Gys de Villiers in hierdie rolprent. Gys is dan ook bekroon as beste akteur vir sy vertoliking van Kmdt van Aswegen. Jacques Bessenger het die silwerskerm toekenning as beste manlike byspeler ontvang. Bekende resensent Leon van Nierop sê dat dit beslis een van die .beste Afrikaanse flieks nog is en met trots uitstaan as ’n prestasie van wêreldgehalte. Hierdie rolprent het ook die Kykerkeuse-toekenning by die Silwerskerm Filfees 2012 ontvang. Gaan kyk dit!
Verraaiersweb

 DIE LAASTE TANGO
Datum en tyd: Vry 28 Junie 11:00
Die Laaste Tango is die bekende skrywer Deon Meyer se debuut as filmregisseur. Dit is ʼn spanningsvolle liefdesverhaal propvol intrige. Herkules de Wet (Louw Venter) is ʼn werkverslaafde speurder wat ʼn psigopaat reeksmoordenaar aankeer. Hy rand egter die moordenaar in woede en haat só erg aan dat hy gevaar loop om die hele moordsaak in die wiele te ry. Hy word Loxton toe gestuur totdat sake afkoel. Hier ontmoet hy dan vir Ella Winter (Antoinette Louw) wat hom die tango –aanvanklik teen sy sin –wil leer. Maar dan ontsnap die moordenaar en sy bloedspoor lei na Loxton. Hy wil hom met alle geweld  wreek teen deWet…
Moenie hierdie spesiale voorskou van die rolprent (wat eers 5 Julie in teaters begin draai) by Innibos misloop nie!
tangoweba

KOEBAAIKLUB
Kortfilm
Datum en tyd: Wo 26 Junie 16:00
KOEBAAIKLUB - (Komedie)
VERVAARDIGER: Gregory Michael du Tertre REGISSEUR: Claudia de Witt DRAAIBOEKSKRYWER: Claudia de Witt KINEMATOGRAAF: Philip van Zyl REDIGEERDER: Andrew Gould
Anje word in beheer gelaat van ’n sukkelende begrafnisonderneming terwyl haar baas, Elma, op wittebrood is. Op haar eerste waarnemende dag moet sy verneem haar medewerknemer JP het die lykswa die vorige aand gekrap toe hy dronk mense teen betaling vervoer het. Dan bied ’n weduwee vir hulle geld aan om by haar man se begrafnis te treur omdat daar geen mense gaan opdaag nie. Uit finansiële nood stem hulle in. Hulle oortref hulself as professionele roubeklaers en besef hier is ’n geleentheid soos min. Die een begrafnis volg op die ander waar hulle huil, gedigte lees en selfs liedjies sing. En dan kap ’n ryk begrafnisganger om by een van die begrafnisse. Anje en JP smokkel hom na die begrafnisonderneming toe om te verseker dat hulle sy begrafnis kan reël. Dié aand vier die twee hul voornemende sukses en een ding lei tot ’n ander. Die volgende oggend daag die baas op en word begroet deur ’n vreemde petalje...
koebaa web
LITTEKENS
Kortfilm
Datum en tyd: Do 27 Junie 14:00

LITTEKENS - (Drama)
VERVAARDIGER: Etienne Daniels REGISSEUR: Marike Bekker DRAAIBOEKSKRYWER: Marike Bekker REDIGEERDER: Marionne Fourie KOMPONIS: Sam Jensen
Littekens is gegrond op ware gebeure. Die Davids-gesin was ’n welgestelde familie in Distrik Ses. Professionele, gelukkige mense met een dogter, Dorothy. En toe kom 1955 – hul stemreg word ontneem, hulle word geklassifiseer as “Kleurlinge” en mag nie met “Blankes” meng nie. Kariema Davids was lig en Ebrahim donker van kleur. Oorywerige wetstoepassers het hulle gedurig vir hul identiteitsdokumente gevra. Ebrahim het hom verlustig in die polisiemanne se verleentheid as hy bewys hulle oortree geen wette nie. Sy bravade het Kariema radeloos en Dorothy vreesbevange gelaat. Uiteindelik het Dorothy ’n suksesvolle sakevrou en ’n uithalerkok van Kaaps-Maleise kos geword en sy word gereeld gevra om kookdemonstrasies dwarsoor die wêreld te hou. So is sy op ’n dag genooi vir ’n demonstrasie vir die Vrouelandbouvereniging... waar die spoke van die verlede weer begin loop het. Vandag het sy steeds littekens as ’n herinnering aan ’n donker tyd in ons verlede, maar sy word gereken as een van die beste sjefs in Suid-Afrika. Littekens en al.
Littenkens web


PRINS PIET EN DIE PANELBEATER
Kortfilm
Datum en tyd: Do 27 Junie 15:00
DIE PRINS EN DIE PANELBEATER - (Komedie)
VERVAARDIGER: Sally Campher REGISSEUR: Jano Esterhuizen DRAAIBOEKSKRYWER: Benjamin Esterhuizen KINEMATOGRAAF: Dirk Mostert REDIGEERDER: PB Esterhuizen
"Ek weier!" En vir die soveelste keer word 'n kamerdeur toegeklap in die gesig van kapt.Tu Broek, hoofsekuriteitsbeampte van die besonder ongeskikte, arrogante en astrante kroonprins van die koninkryk van België. Eintlik wens kapt. Tu Broek, ’n boytjie van Brakpan, heimlik dat die booswigte van die Trippel A-bende – (die Antwerpse en Amsterdamse Anargiste), wat dreig om Prins Boernhohl te ontvoer – hul gatte in rat kry en dit doen. Maar wens help niks. Sy werk, in opdrag van koningin Beatrix van Nederland, is om na die beste van sy vermoë te alle tye na die prins se welsyn om te sien.
prins web


UIT DIE KASKENADES
Kortfilm
Datum en tyd: Do 27 Junie 16:00
UIT DIE KASKENADES - (Romatiese komedie)
VERVAARDIGER: Nadia Beukes in samewerking met FADCreationS REGISSEUR: Marno van der Merwe OORSPRONKLIKE KONSEP: Nadia Beukes en Marno van der Merwe HOOFSKRYWER: Ferdinand Gernandt MEDESKRYWER: Marno van der Merwe KINEMATOGRAAF: Paul Kruger REDIGEERDER: Andries de Jager (Bladeworks Post Production Facilities) OORSPRONKLIKE MUSIEK: Marno van der Merwe in samewerking met Marlee van der Merwe en Heidi Edeling
'n Doodnormale dag by vriende se huweliksherdenking gooi Rina se lewe omver wanneer ’n bombastiese en luidrugtige vrou verklaar dat die man daar oorkant sonder twyfel “skeef” is. Min weet sy dié man is Rina se man. ’n Saadjie word geplant en skielik is Rina agterdogtig. Sy begin goed inlees in alles wat Theunis sê en doen. Sy stel lokval na lokval in ’n poging om hom uit te vang. En dan betrap sy ’n vreemde man met 'n dik, wollerige jas en vere om sy nek langs hul bed. Rina vlug met net die nodige artikels by die huis uit en gaan soek vertroosting en antwoorde by haar ouers. Haar ouers oortuig haar om terug te gaan vir hul huweliksherdenking en te praat, want “só ’n ding kan vreeslik aan ’n man se senuwees knaag”.
uitdie web
DIE BUURTWAG
Kortfilm
Datum en tyd: Vry 28 Junie 14:00
DIE BUURTWAG - (Komedie)
VERVAARDIGER: Beer Adriaanse (DPK) en Jaco Smit (Testify Films) REGISSEUR: Jaco Smit DRAAIBOEK: Beer Adriaanse KINEMATOGRAAF: Jorrie van der Walt REDIGEERDERS: Johan Beukes en Dwayne Carrao
Johan is 'n 34-jarige gesinsman wat onlangs by’n voorstedelike Kaapse woonbuurt ingetrek het. Ná ’n inbraak sluit hy by die plaaslike buurtwag aan. Dié uiteenlopende groep mense hou hulle egter meer besig om die verveling van die voorstad te probeer verdryf as om die buurt te bewaak, ondanks hul "opperbevelvoerder" (Don) se grootse strategiee. Die aankoms van Johan en nog ’n nuweling, Ayanda, dien as katalisator vir transformasie. Hul grootste aand lê nog voor... So eie aan Suid-Afrika as wat kan kom.
buurtwag web
STUT

Kortfilm
Datum en tyd: Vry 28 Junie 15:00
STUT - (Drama)
VERVAARDIGERS: Louise Malan, Rachel van der Westhuizen en Arthur Twigge REGISSEURS: Adriaan de la Rey en Armand Fourie DRAAIBOEKSKRYWERS: Armand Fourie en Adriaan de la Rey KINEMATOGRAAF: Werner Olivier REDIGEERDERS: Adriaan de la Rey, Werner Olivier en Wihann Strauss
'n Rugbydrama oor die innerlike worstelinge van ’n oud-Vrystaat-rugbystut wie se lewe in duie stort. Hy het nooit sy volle potensiaal op die rugby- veld bereik nie. Die krag en aggressie wat hy nooit vrye teuels op die rugbyveld kon gee nie, kom tot uiting in sy alledaagse lewe. In ’n wêreld van vaderlike verwagtings, mislukkings, onderdrukte gevoelens en vernedering word hy verby breekpunt gedryf. Hy kry ’n eenmalige kans om in sy klein Vrystaatse dorpie se klubrugby-finaal te speel – ’n ander koers in te slaan. Maar die steurende mantra draai steeds in sy kop: Hoeveel verg dit om ’n skrum regop te hou?
stut web
DRUKKERSBLOED
Kortfilm
Datum en tyd: Vry 28 Junie 16:00
DRUKKERSBLOED - (Riller-drama)
VERVAARDIGERS: Jennis Williamson en JC Snooke REGISSEUR: Kabous Meiring DRAAIBOEKSKRYWERS: Jennis Williamson, JC Snooke en Kabous Meiring KINEMATOGRAAF: Adam Bentel REDIGEERDER: Cremer van Dango (Hey!Fever)
Drukkersbloed draai om die intriges, politiek, skandale en afguns in die Afrikaanse musiekbedryf.Johan Diedericks, ’n joernalis, is op soek na die waarheid en gaan grawe waar hy nie moet nie. En betaal met sy lewe. Soos die polisie die verdagtes ondervra, kom al hoe meer skandale na vore en die kyker besef watse gekonkel daar in die oënskynlik konserwatiewe Afrikaanse musiekbedryf kan wees. Dié prent laat jou met vrae soos: Wie maak die meeste geld in die bedryf? Wie het die grootste en mooiste plaas? Wie is gay? Is dit ’n goeie ding dat ouers hul kinders se loopbane bestuur? Is daar ’n plek vir poniekoerante en joernaliste wat bloot sensasie najaag?
drukkersbloed web

NANTES
Kortfilm
Datum en tyd: Sa 29 Junie 14:00
NANTES - (Drama)
VERVAARDIGER: Jaco Loubser (Homebrew Films) REGISSEUR: Rene van Rooyen DRAAIBOEKSKRYWER: Rene van Rooyen KINEMATOGRAAF: Zenn van Zyl REDIGEERDER: Simon Beesley
Danielle moet sak en pak terugtrek na haar pa, ’n bestuurder op ’n wynplaas in die Boland, nadat haar verlowing verbreek is. Dit voel of sy nooit die hartseer gaan afskud nie, totdat sy een laatmiddag op ’n staptog ’n geheimsinnige lantern sien brand wat sy volg tot by ’n verlate ou plaashuis. Daar ontmoet sy vir Johan, wat haar vir aandete nooi by die bekende Nantes-plaas. Dit is ’n betowerende, magiese aand wat terugspeel op die jare vyftig met die De Vielliers-gesin van drie as die gashere. Dit is ’n aand van kos, wyn en samesyn. Uiteindelik vertrek Danielle met ’n belangrike brief wat sy vir haar pa moet gee. Sy besluit om dit vir hom te los en haar eie pad te vind, vorentoe – weg van die hartseer van die verlede.
nates Web
ANDERKANT GISTER

Kortfilm
Datum en tyd: Sa 29 Junie 15:00
ANDERKANT GISTER - (Fantasie-avontuurkomedie)
VERVAARDIGER: Niel van Deventer REGISSEUR: Charlene Brouwer DRAAIBOEKSKRYWER: Niel van Deventer KINEMATOGRAAF: Brad Devine REDIGEERDER: Christiaan Scheepers

Bennie du Plessis is ’n jong Afrikanerman wat in die jare tagtig en negentig in ’n veranderende Suid-Afrika grootgeword het. Ten spyte daarvan dat hy suksesvol is en min het om oor te kla, wens hy soms dat hy kon teruggaan en dinge anders doen – veral ten opsigte van ’n onlangse liefdesteleurstelling. Een aand ná ’n paar biere spreek hy dié wens hardop uit. ’n Man in die kroeg, wat oor magiese kragte besit, knoop ’n geselsie aan. Hy maak seker Bennie wens wat hy wens en gee hom sy laaste drankie vir die aand... Die volgende oggend word Bennie wakker in 1987, maar nie as sesjarige nie. Hy is steeds 31 – met sy moderne klere, sy selfoon (wat nie werk nie) en sy (nuwe) geld wat vir hom net soveel werd is as Monopoly-geld. Hoe nou gemaak?
anderkant web

LIKE MY PROFILE
Kortfilm
Datum en tyd: Sa 29 Junie 16:00
LIKE MY PROFILE - (Riller)
VERVAARDIGER: Johan Cronje (NouvanaandFilms) REGISSEUR: Adam Heyns DRAAIBOEKSKRYWER: Adam Heyns KINEMATOGRAAF: Eduan Kitching
Niel sal vir jou sê hy het nie Facebook nodig nie – hy het ’n foon wat kan bel en kan SMS. Tog, sonder Facebook sukkel hy om vir Maia op te spoor. Toe Johnny een aand met sy bike en sy gevaarlike speelgoed in Niel se lewe injaag, word Niel oornag ’n internet-celebrity. Werklikheid vervaag wanneer die regte wêreld en die digitale wêreld mekaar ontmoet.
like my web

blog

comp2

facebook_icon twitter_icon youtube_icon

mainsponsors

Soek

Teken in op Tjirp

Naam:
Epos: