blogbanner_02

Tuis

Innibos loodsfunksie en almal is genooi!

uitgenooi
Ons wil die aap uit die mou of liewer in die lig van die tema, die kat uit die sak skud! Innibos is altyd aan die vernuwe en hierdie jaar is dit ook nie anders nie. In die verlede is die loodfunksies waar die program bekend gestel word, hoofsaaklik vir die media en die borge gehou.

Hierdie jaar het Innibos besluit om die deure oop te gooi vir die publiek en ander belangstellendes. Innibos neem weereens die voortou van eerstes. Die allerbeste is dat hierdie geleentheid gratis en verniet is! Dit vind plaas op Donderdag 10 Mei 2012 by Bergvlam Hoërskool (Innibos Feesterrein). Die publiek moet hulle eie stoele bring, ’n piekniekmandjie pak met kos en drinkgoedjies en van 5 uur se kant kom nesskrop voor die verhoog op die rugbyveld. Maar as jy te lui is om 'n piekniekmandjie te pak, is daar stalletjies wat heerlike eetgoed en drinkgoed gaan verskaf. En 'n biertent vir die dorstiges.

Innibos se program gaan tydens hierdie geleentheid bekend gestel word. Met Sorina (Die Flooze) en Alvin Bruinders as seremoniemeesters, beloof die aand propvol pret te wees. Jy gaan eerstehandse kennis kry van wat alles op die feesterrein aangebied word asook die volledige teaterprogram, inligting oor die kunstekronkel en alles wat op die boekefront gebeur. Tussen die programbekendstelling gaan daar oulike lusmakertjies wees soos Neels van Jaarsveld wat ’n knertsie van sy Pa vir dummies kom opvoer. Oom Karoolus en Lente is ook daar om van die Loof Hom Innibos-program te kom vertel. David Dee se kulkunsie waar hy swaarde deur ’n arme vroutjie in die boks steek, gaan jou na jou asem laat snak.

Sonder borge is ’n fees soos Innibos nie moontlik nie en die borge gaan ook kortliks van hulle betrokkenheid vertel. En dan kom die gróót makietie. Die gewilde groep Adam gaan wys waarom hulle tans die meisie se knieë so lam maak. Dan kom Nicholis Louw aan die beurt om die publiek met sy energie te oorrompel. Laastens gaan Bok van Blerk die vertoning op ’n hoë noot afsluit.

Maak jou reg vir die kattemaai van die jaar. En so van katte gepraat, daar gaan dié aand ’n paar katte geskiet word. Nee, nie van al die voggies nie, maar met ’n kettie deur die lug. En die vangers van dié katte gaan ’n gróót verrassing kry. Moet dit nie misloop nie. Gaan teken dadelik ’n GROOT KAT op dié datum in jou dagboek!
hoofborge_2
facebook_icon twitter_icon youtube_icon

Soek

Kaarte

Kaarte van die stalletjies in die Bosmôl en Kunspark sal binnekort op die web gelaai word.’n Kaart van die feesterrein en feesvenues in en rondom Nelspruit sal teen Mei-maand op die webwerf beskikbaar wees om af te laai in pdf formaat.

Kaarte van die stalletjies in die Bosmôl en Kunspark sal in Januarie op die web gelaai word.

’n Kaart van die feesterrein en feesvenues in en rondom Nelspruit sal teen Meimaand op die webwerf beskikbaar wees om aft e laai as pdf.

Teken in op Tjirp

Ons lekkerlees nuusbrief met al die jongste nuus en spesiale feesaanbiedings!
Naam:
Epos: