
Dit is vir die Innibos-feesbestuur van kardinale belang dat feesgangers maklik by die feesterrein moet uitkom. Vir diegene vir wie parkering hoofbrekings besorg en wat graag verkeersknope wil vermy, bied die Stop-en-hop-diens (Park and ride) wat verlede jaar met groot sukses tussen I’langa Mall en die Innibos-feesterrein aangebied is, ’n uitkoms. Hierdie diens word vanjaar uitgebrei en ’n Stop-en-hop-diens sal vanjaar ook vanaf Riverside Mall beskikbaar wees. Feesgangers kan gratis by hierdie winkelsentrums parkeer vanwaar daar elke 30 minute ’n bus na die feesterrein toe vertrek. Volg die rigtingbordjies wat by die winkelsentrums aangebring is. Feesgangers word by Hek 3 van die feesterrein op- en afgelaai. Die Innibos Stop-en-hop was verlede jaar ’n voltreffer en feesgangers kan gerus van hierdie gratis diens gebruik maak!
