Innibos 2010 - 23 tot 26 September
 

Musiek: Kontemporêr
Chris Chameleon - Driekuns
Chris Chameleon met Jonathan Crossley op kitaar, Ampie Omo met trompet, tromboon, perkussie en klawers en Riaan van Rensburg op perkussie.
Gradering: Gesin
Datum en tyd: Do 2 Jul 18:00, Vr 3 Jul 15:00 Sa 4 Jul 10:00
Venue: Nelspruit Hoërskool Ouditorium
Tydsduur: 60 min
Prys: R87
Van Chris Chameleon kan ’n mens altyd die onverwagse verwag! Vanjaar bied hy met Driekuns nog ’n kykie op sy veelsydigheid. Bygestaan deur Jonathan Crossley op kitare, Riaan van Rensburg op perkussie en Ampie Omo op klawers, trompet en tromboon en perkussie gaan Chris vanjaar nie net interessante nuwe verwerkings van sy treffers en persoonlike gunstelinge bied nie - hy gaan ook vir die wat sy Boo!-dae gemis het, wys hoe hy ’n baskitaar kan tem. Verwag dus ook ’n paar klasieke Boo!-nommers. Wat hierdie produksie so besonders maak, is dat hy vir die eerste keer sedert Boo!-dae met Ampie Omo, sy kollega uit daardie eklektiese driemanskap, saamwerk. ’n Chameleon kragtoer wat nie misgeloop moet word nie. Chris het ’n Kanna by die KKNK ontvang as beste manlike kunstenaar vir sy optrede in Driekuns.

Musiek: Kontemporêr
Rapport Musiek Maestro’s
Jannie Moolman, Brandon October, Lize Beekman, Jak de Priester en Annake de Villiers
Met Devereaux van der Hoven, Juan Oosthuizen, Vinnie Henrico en Theo Klassen.
Gradering: Gesin
Datum en tyd: Vr 3 Jul 10:00 en 18:00, Sa 4 Jul 13:00
Venue: Nelspruit Hoërskool Ouditorium
Tydsduur: 120 min
Prys: R87
Moontlik gemaak deur Rapport. Vyf van Suid Afrika se top kunstenaars span saam om ’n onvergeetlike musiekproduksie aan te bied. Die gehoor kan uitsien na Jak de Priester se boere Rock en Roll van sy nuwe album, Groen Mamba en Lize Beekman se sielvolle vertolking van haar immergewilde treffers. Duette en solo’s deur Brandon October en Jannie Moolman gaan teatergangers aan die hart ruk en Annake de Villiers beloof om ’n paar nuwe viool-virtuose items uit die mou te ruk. ’n Moet-sien-produksie enig in sy soort!

Musiek: Kontemporêr
Amanda Strydom en Lize Beekman - SAAM
Met Janine Neethling, Juan Oosthuizen en David Klassen.
Gradering: Gesin
Datum en tyd: Sa 4 Jul 18:00, So 5 Jul 11:00
Venue: Lowveld High
Tydsduur: 80 min
Prys: R100
Amanda Strydom en Lize Beekman, bekende liedjieskrywers en digter-sangers, span in hierdie vertoning hul talente saam vir ’n unieke musiekervaring. Albei is divas in eie reg en dié uitmuntende sangers is al jarelange vriende. SAAM delf hulle uit hulle musiekskatkis die liedjies wat hul saam komponeer het, die liedjies van hulle nuutste albums, asook hulle treffers wat volksbesit geword het. Daar is natuurlik ook stories te vertelle – soos net Strydom en Beekman kan. Hierdie verhoogproduksie gaan beslis een van die hoogtepunte by Innibos 2009 wees!

“Amanda en Lize SAAM oortref verwagtings - die professionaliteit van die vertoning - van klank tot ligte tot ’n uitstekende orkes- is uitmuntend.” Elmari Potgieter, Krit.


 Musiek: Kontemporêr
Coenie de Villiers en CH2 – Klavier en snaar
Met Coenie de Villiers, Corneille Hutten-Burger en Leon Gropp
Gradering: Gesin
Datum en tyd: Vr 3 Jul 20:00, Sa 4 Jul 14:00
Venue: Bergland Laerskool
Tydsduur: 70 min
Prys: R87
Coenie de Villiers se musiek het nog altyd gewissel tussen die persoonlike en politieke met 'n verskeidenheid van musiekstyle wat neig van jazz en blues tot pop en rock.  Meng hierby die druppels Flamenco van die guitar duo CH2 se klassieke en Latynse energie en daar is ’n vermenging van KLAVIER EN SNAAR soos nog nooit tevore.
 
’n Produksie wat jou sal bybly, lank nadat die laaste note weggesterf het...


Musiek: Kontemporêr
Nianell
Met Juan Oosthuizen.
Gradering: Gesin
Datum en tyd: Vr 3 Jul 15:00, Sa 4 Jul 10:00
Venue: Bergland Laerskool
Tydsduur: 90 min
Prys: R100
Daar is ’n ster wat skitter op die musiekfront. En dit is die bekende sanger, Nianell. Hierdie ster het die vermoë om die mooiste melodieë te skep en dit met inspirerende woorde te kombineer. Met haar besondere verhoogpersoonlikheid onderskei sy haar van die res. Haar stem is opwindend, beweeg gemaklik tussen vier oktawe en bring ’n besondere klank voort wat wissel van bittersoet, delikaat tot sterk en kragtig. Na die geboorte van haar drieling is Nianell weer op pad om die kollig te steel. Met vele toekennings agter haar naam, is hierdie optrede ’n besliste-moet-sien.

Musiek: Kontemporêr
André Schwartz – Liefde? Al dan nie
Met Chris van der Westhuizen, Christiaan Rabie, Werner Spies en Justin Badenhorst.
Regie: Tobie Cronjé
Musikale regie: Chris van der Westhuizen
Gradering: Gesin
Datum en tyd: Do 2 Jul 18:00, Vr 3 Jul 15:00
Venue: Lowveld High
Tydsduur: 70 min
Prys: R87
In hierdie produksie word die liefde onder die loep geneem en gaan André ’n vars blik gee op die wel en wee van die liefde: hoe eiesoortig, heerlik, aaklig en verwarrend. Hy ondersoek die twee snykante – humor en hartseer -  van die liefde. Met vlymskerp tong in die kies gaan hy selfs die liefde-profeet verwar oor wat die liefde nou régtig is... Met sy eie lovesongs asook die beste liedere in die storievertel-genre uit die pen van Sondheim, Le Grand en Kander en Ebb gaan hy die bos aan die brand sing.

Musiek: A Capella
Cutt Glas Alles van die beste
Met Karen Meiring, Bondina Osterhoff, Karen Wessels, Rozelle Blackie, Mabet van Wyk en gaskunstenaars Shireen Hollier en Jolette Odendaal
Gradering: Gesin
Datum en tyd: Vr 3 Jul 10:00, Sa 4 Jul 10:00
Venue: NG Moedergemeente Kerksaal
Tydsduur: 60 min
Prys: R87
Cutt Glas is 20. Nee, dis nie die hoeveelheid lede in die groep nie, ook nie hul gewig of hul IK nie. Hulle is 20 jaar oud, wat beteken dat hulle al jare lank gehore laat skater en na hul asems snak met hul skerpsinnigheid en eiesoortige medleys. Hul Afrikaanse TV-debuut was op Spies en Plessis toe dames nog mini’s en skouerkussinkies gedra het. Hulle is nie net Suid-Afrika se eerste professionele vroue a capella-groep nie, maar is ook in 1998 aangewys as ons eerste Kulturele Ambassadeurs. Om hierdie mylpaal te vier, span die groep nou kragte saam met twee van hul vorige lede, Shireen Hollier en Jolette Odendaal. Alles van die beste bevat gehoorgunstelinge, met nuwe kommentaar, wat jy nie moet misloop nie. Kom wees deel van hierdie geskiedkundige gebeurtenis en ja, bring jou sakdoek ... om die lagtrane af te droog.

Musiek: Kontemporêr
Rina Hugo, Manuel Escorcio en Romanz – In Harmonie
Gradering: Gesin
Datum en tyd: Vr 3 Jul 10:00, Sa 4 Jul 17:00
Venue: Bergland Laerskool
Tydsduur: 70 minute
Prys: R87
Rina Hugo en haar jarelange vriend, Manuel Escorcio sing al van die tagtigerjare saam. Voeg die nuwe sensasie op die musiekfront, Romanz daarby en jy kry ’n produksie uit die boonste rakke. Rina het as solis feitlik alle genres beoefen: van opera, oratorium, die kunslied, musiekblyspele tot ligte musiek. Met sy pragtige fluweelstem is Manuel soos goeie rooi wyn. Hy het tot datum naby 4.600 shows gedoen en 47 CD’s opgeneem. Rina en Manuel se duet CD In Harmonie het alle verwagtinge oortref. Dit het goue status bereik, het maande lank op die Top Tien van DKNT geboer en was die 8ste beste Afrikaanse verkoper in S.A. in 2008. Die vokale gehaltekwartet, Romanz, se Adam Barnard, Louis Loock, Burgerd Botha en André Venter gaan ekstra fleur aan hierdie produksie gee. Hierdie is ’n musiekervaring deur 6 van ons top sangers wat jy nie mag misloop nie.

Musiek: Kontemporêr
Lucas Maree en André Swiegers – Aan die Annerkant...
Met Monica Maree en Emile en Jean Swiegers.
Gradering: Gesin
Datum en tyd: Wo 1 Jul 17:30, Do 2 Jul 17:30
Venue: Bergland Laerskool
Tydsduur: 70 min
Prys: R87
Die appels val gewoonlik nie ver van die boom nie, maar met sangers is dit so dat hulle kinders musiek saam met hul pap inkry en dan ontwikkel hulle in net sulke goeie musikante as hulle ouers. In hierdie produksie snoer die ouer garde kragte saam met hul kinders en wys dat die generasiegaping met musiek oorbrug kan word. Lucas en sy dogter, Monica, sing liedjies van sy nuwe album, liedjies wat hom in sy loopbaan geïnspireer het, en ou liedjies wat splinternuut verwerk is en ’n nuwe kleur en betekenis aanneem. André en sy seuns, Jean en Emile sing liedjies van sy nuwe album, sowel as sy bekende werke soos Blou, Eva en Jammer om te hoor. ’n Konsert enig in sy soort. Maak seker jy is daar!

Musiek: Rock Pop Blues
Ses Snare – Mathys Roets*, Mel Botes, Blackie Swart, Leon Ecroignard, Thean Kotze en Wouter van de Venter.
Gradering: Gesin
Datum en tyd: Wo 1 Jul 19:00, Do 2 Jul 10:00
Venue: Nelspruit Hoërskool Ouditorium
Tydsduur: 90 min
Prys: R88
Waar sal jy ses meer uiteenlopende musikante saam op een verhoog kry as Mathys Roets, Mel Botes, Blackie Swart, Wouter van de Venter, Leon Ecroignard en Thean Kotze? Gedink jy gaan Liewe Lulu en Koos Doep hoor? Nee, hierdie manne hark hulle kitare nader en met snaar en stem stof hulle van die beste treffers van Queen, Dire Straits, Bob Dylan, Pink Floyd, Eric Clapton en ’n paar ander legendes deeglik af. Gewilde rock-treffers soos Call me the Breeze, Crazy little thing called Love en Hotel California laat die voete jeuk terwyl Sultans of Swing pure hoendervleis gee. Sting se meesleurende Roxanne en Eric Clapton se Tears in Heaven is van die ander hoogtepunte in die konsert. Elkeen van die snare speel ook van sy eie komposisies, als Afrikaans en splinternuut, en hier kom die veelsydigheid en talent van elk van die manne werklik tot sy reg. Die Ses Snare praat ook ’n bietjie nonsens tussen-in, maar die meeste van die tyd sing en speel hulle die enamel van jou tande af. Wil jy graag die veelsydigheid van ’n ware kunstenaar beleef? Kom kuier dan saam met hierdie gesoute musikante en hulle kitare.