
Die Innibosprogram is op 10 Mei met 'n heerlike gratis kuierkonsert bekend gestel. Die geleentheid is deur bykans vyfduisend voornemende feesgangers bygewoon en ons kan onomwonde sê: Innibos-koors loop hoog!
Kaartjies vir die feesterrein en al die produksies op die Innibosprogram is tans beskikbaar by Computicket landwyd en by verskeie afsetpunte in Nelspruit. Goue sirkel-kaartjies vir Saterdagaand se konsert is by Innibos-kantore en telefonies by (013) 741 5294 (Tina) beskikbaar.
Maak jou reg vir die kattemaai van die jaar, want vanjaar is mos Innibos se negende lewensjaar en die kat kom weer ...
Innibos is nege jaar oud, en soos die spreekwoordelike kat met nege lewens, gaan daar vanjaar heerlik gekattemaai word by die fees!
Daar vind hierdie jare vele opwindende dinge op die Innibos-feesterrein plaas. Daar is ’n opwindende (s)kattejag waar feesgangers wonderlike pryse kan wen. Hou die webtuiste dop vir verdere inligting.
Dan gaan daar elke aand lekker katte geskiet word, maar nie van te veel voggies nie. Sagte speelgoed met lekker pryse binne-ingaan oor die skare geskiet word met ’n reuse kettie. Maak seker dat jy en jou vriende ’n lynstaan vorm om dié kat te vang.
Saterdagaand word die grootste kat temapartytjie gehou wat Suid Afrika nog ooit gesien het. Alle feesgangers word uitgenooi om Saterdag in kat-kostuums Innibos toe te kom. Gaan trek daardie katpak van jou aan, verf jou gesig en maak seker dat jy raakgesien word. Innibos bied in samewerking met Coca-Cola ’n kompetisie aan en die oulikste en oorspronklikste feeskat kan R10 000 en ’n skootrekenaar wen. Kry dus jou katmondering reg en kom vier fees saam met ons!